Lees reeks by Geeste en Gedaantes
Die Spook in die Pastorie
Miemie-Louw Theron
Maryna Potgieter, die vrou van die skoolhoof, stap in die paadjie op deur die groot tuin van die pragtige pastorie en staan so ‘n oomblikkie stil om die statige ou gewel te bewonder wat teen die blou lug omhoog nou sigbaarder is, vandat die ou akkerbome se blare begin afval. Die rooibruin herfsblare wat nog sit, steek helder soos fyn kant, teen die wit kalk af.
Die nuwe leraar is so pas verwelkom en toe is alles opgeknap, ook die gebarste ou gewel. Sy kyk noukeurig, maar daar is niks meer te sien van die woorde wat daarop gestaan het nie: “Naudè’s Gift.” Dit was nou nie juis so wonderlik van pas nie maar sy vind dit tog jammer dat die kerkraad dit verwyder het en wel teen die sin van baie ou mense in die gemeente.
Sowat vyftig jaar gelede met die stigting van die gemeente, is die pastorie aan die gemeente geskenk deur ‘n baie welgestelde ou egpaar Roux, wat ook die twee gerieflike koshuisinrigtings laat bou het vir die hoërskool, of die Rouxinstituut, soos dit van toe af genoem is. Daar word vertel dat die besittings eintlik van die ou dame se familie gekom het en daarom moes haar nooiensvan op die gewel van die pastorie staan, sodat almal kon weet die geld kom van die Naudè’s. Alhoewel die familie heeltemal uitgesterf het, vind Maryna tog dat die nagedagtenis van die vrygewige ou dame ‘n onreg aangedoen is. Sy was voorwaar nie suinig nie, as mens let op die manier waarop die pastorie gebou is. Hierdie massiewe ou dubbel geelhoutvoordeur, wat so kwistig versier is met pragtige houtsneewerk daaromheen, het seker alleen ‘n paar honderd pond gekos.
Die moeder van die predikant maak self die deur vir Maryna oop. Die ou dame is besig om in die in die breë gang skilderye op te hang.
“Kom maar binne, mev Potgieter en sê jy vir my wat hierdie eienaardige paneel hier regoor die voordeur beteken. Dit lyk asof dit spesiaal so gemaak is vir ‘n besonder groot skildery of iets. Ek het geen raad daarmee nie; alles wat ek hier hang, lyk onvanpas,” sê sy, terwyl sy die prente weer verhang.
“Ja, ek onthou dat ons vorige leraarsvrou altyd oor hierdie plek ‘n kralegordyn gehang het,” sê Maryna. “Ek wis nie dit was so ‘n ingeboude paneel nie. Ek wil u regtig nie hinder nie; ek sien u is nog besig om in te trek. Maar ek wil graag weet of u my nie met iets kan help nie. Die losieshuise is almal vol, soos u weet, en ek het al my vrykamer ook vol skoolkinders en nou kry ons ‘n nuwe onderwyseres wat by my sal moet loseer want sy is my niggie. Nou het ek net gewonder of ek nie by u een van die leëkamers van die pastorie vir haar kan huur nie. Ek sal self sorg vir die aankantmaak en alles, as u net vir ons die kamer kan gee totdat my vrykamer weer leeg is.”
“Maar natuurlik kan u dit kry! Die pastorie is mos ‘n kasteel met ses slaapkamers. Ons het nog nie eers meubels vir almal nie”, sê mev Pistorius tegemoetkomend. “Ek sal maar te bly wees om geselskap te hê want jy weet Dominee is heeldag uit op huisbesoek en daar is byna elke aand ‘n vergadering. Die arme predikante is deesdae mos by die laaste en elke ding betrokke. Sy kan gerus maar heeltemal by my loseer; ek sal daar so van hou.”
“Maar wat sal Dominee sê?” vra Maryna, verras oor die vriendelike aanbod.
“Ag niks, want hy neem tog geen notisie van vroue nie, nog minder van jong dames! Nee, die arme kind van my het ‘n ongelukkige teleurstelling gehad toe hy nog studeer het. Dit was ‘n ligsinnige meisie wat in die gedrang was. Hy sê hy sal nooit trou nie en kyk nou net die yslike pastorie vir ‘n groot gesin! Nou kom, ons gaan kyk watter kamer vir haar geskik sal wees. Ek dink hierdie een met nog ‘n buitedeur op die lekker agterstoep sal goed wees.”
“O, sy sal hiervan hou,” sê Maryna, verruk oor die pragtige uitsig op die sneeubedekte berge en die diep donker klowe tussen-in, digbegroei met bome en bosse “En kyk net hierdie oulike klein muurkassie! Marie is reeds so gaande oor alles wat outyds is. As jong kind was sy baie swak en sieklik, het altyd voorbodes gesien, soos die ou mense sê, maar dit het sy gelukkig lankal ontgroei. Ek het altyd gesê dis maar sommer verbeelding, dan lag sy net so ‘n geheimsinnige laggie en praat verder niks oor wat sy gesien het nie. Eers as die persoon dood is, sal sy ons daarvan vertel en dan, natuurlik, spot ons kinders maar met haar. Sy is nou egter fris en gesond, mens sal nooit sê sy was so ‘n tingerige, senuagtige kind nie.”
Mev Pistorius roep na die koster wat in die agterplaas besig is om meubels te laat indra.
“Kom ons maak eers hierdie kamer aan die kant, asseblief. Laat daardie stinkhoutkamerstel na die stoepkamer bring,” sê sy.
“Dis die lekkerste slaapkamer van die huis,” antwoord die koster. “ Dit was altyd die tuiskamer van die Roux’s wat die pastorie laat bou het. In daardie muurkassie het die ou mev Roux al haar teegoed gehou en dis nou nog daar. Ons vorige dominee het dit as ‘n speelkamer vir sy kinders gebruik en toe het hulle eendag in die muurkassie gekrap en ‘n koppie gebreek. Daarna het ek dit toegesluit. As u die kassie wil gebruik moet ons dit maar leeg maak.”
“Ag nie” protesteer Maryna, “laat die goedjies maar gerus so daarin bly, dit hoort aan die ou geskiedenis. My niggie sal dit alles baie interessant vind.”
“Die seun van ons vorige dominee het altyd sy sustertjie wat die koppie gebreek het, gepla en gesê dat die ou tante by haar sal kom spook,” vertel die koster laggend.
“Nou, as sy oor die koppie kom spook het, wonder ek wat sy met julle sal maak wat haar naam op die gewel toegepleister het,” lag Maryna.
“Mevrou praat nou soos my ouma,” antwoord die koster. “Sy is tog al te kwaad daaroor. Sy vertel ook nog van ‘n skildery van die ou tante wat altyd in haar kindsdae in die pastorie gehang het maar niemand weet nou wat daarvan geword het nie. Dis voor my tyd weggeneem. Hulle se die ou mev Roux was so ‘n lelike ou vrou en miskien het een van die vorige predikantsvroue nie van die skildery gehou nie en dit toe vernietig. Janee, as wou spook, sou sy al lankal kom spook het!”
“Maar kyk hoe staan ons almal nes kinders hier en ginnegaap!”, sê Maryna. “Ek sal vir u my jong stuur om te help en vanmiddag kom ek self oor.”
“Baie dankie, dit sal vriendelik wees as jy my wil kom raad gee,” sê mev Pistorius toe sy Maryna ‘n endjie vergesel in die lekker oggendwarmte.
Ds Wouter Pistorius, moeg gesukkel oor die slegte plaaspaaie, is die aand net ontevrede toe hy tuiskom en van die plan hoor om ‘n meisie as loseerder in te neem.
“Moeder, moet tog asseblief nie verwag dat ek die dame moet amuseer nie; daarvoor is ek nou ten enemale te besig. Die gemeente is treurig verwaarloos en geestelik dood. ‘n Leraar behoort voorwaar nie dertig jaar lank op een plek te bly nie,” verklaar hy met beslistheid.
Toe die lieftallige en skone Marie Steyn die middag daar aankom met daardie pragtige groot lewendige bruin oë wat so mooi afsteek by haar kroon van weelderige goue krulle, het die moeder in die stilte gewonder of haar seun hierdie keer bestand sal bly teen so ‘n wonderlik bekoorlike persoontjie, wat dadelik haar eie hart gesteel het met haar eenvoudige, natuurlik maniertjies.
Marie Steyn is besonder ingenome met haar gerieflike gemeubileerde slaapkamer en loop sommer dadelik na die muurkassie toe.
“Hoe fraai! Mag ek dit gebruik?” Sy vee met die hande liefkosend oor die gladde oppervlakte van die geelhoutdeurtjies en staan so ‘n oomblik ingedagte. Skielik druk sy met haar hande op haar voorkop en mev Pistorius merk dat sy meteens bleek is.
“Hoe snaaks! Ek het sedert my kinderjare nooit weer so gevoel nie,” prewel sy saggies, asof sy met haarself praat.
“Wat makeer kind, voel jy naar? Kom lê ‘n bietjie,” bied mev Pistorius ontsteld aan.
Marie glimlag half verleë en stap uit na die stoep waar ‘n tafeltjie met stoele daarby ewe gesellig staan.
“Toemaar, dis sommer niks, seker net die gevolg van die lang treinreis,” sê sy. “Watter heerlike stoep en hoe lekker warm skyn die son hier!”
Die dominee kom toe net tuis en hulle word aan mekaar bekend gestel.’”Ook maar weer een van die mooi poppies met leë hoofde,” dink hy toe hy haar beleefd, maar koel, groet. Hy laat hom dit darem welgeval om saam met hulle ‘n koppie tee te geniet. Sy kan darem onderhoudend gesels en sal dus sekerlik goeie tydverkortting vir sy moeder wees, dink hy.
Die jong dominee het die aand taamlik laat nog in sy studeerkamer gewerk toe hy skielik ‘n angstige gil hoor. Hy vererg hom op die plek maar staan darem op toe hy sy moeder in die gang na die stoepkamer hoor afloop. Hy luister eers om te hoor wat gaande is.
“Nee, nee, ek het seker maar gedroom. Sy het daar van die muurkassie af gekom in ‘n lang, blou ferweelrok met ‘n kantkragie en het so kwaai gelyk dat ek seker in my slaap geskree het. Ek is so jammer; gaan lê maar weer Mevrou. Ek beloof om u nie weer te laat skrik nie,” sê Marie, heeltemal in ‘n natuurlike stem.
“Toemaar, kind, kom. In my kamer staan ‘n orgie bed. Ek laat jou nie vannag verder alleen hier slaap nie”.
Marie protesteer laggend maar eindelik hoor die dominee hulle verbygaan na sy moeder se kamer Dit kom daarvan as mens senuweeagtige meisiemense by jou laat inwoon, dink die dominee. Net rusverstoorders - en sy moeder is nie meer so jonk nie. Hy klap sy deur taamlik hard toe.
Aan die ontbyttafel lyk Marie die volgende oggend heeltemal normaal en gesels so opgewek oor haar skoolwerk, waarvoor sy blykbaar baie geesdrif besit, dat ds Pistorius hom nie verder oor die saak bekommer nie en toe niemand iets sê oor die nag se stoornis nie dink Marie met verligting dat die stuurse jong dominee seker niks gehoor het nie.
Ten spynte van al haar teenstribbeling dwing mev Pistorius Marie daardie hele week om by haar in die kamer te slaap.
Saans sit hulle lank voor die kaggel met hulle breiwerk en sonder dat hy dit wil erken, vind Wouter dit baie aangenaam om soms vir ‘n uurtjie daar by hulle te sit, net om bietjie warm te word voordat hy na sy studeerkamer gaan. Die uurtjies word elke aand ‘n bietjie langer en die studiewerk al minder noodsaaklik totdat dit eindelik Saterdagaand is en die preek nog nie heeltemal in die haak is nie! Vanaand moet hy gouer weg, dog teen sy sin.
Toe sy moeder-hulle later bed toe gaan, hoor Wouter vir Marie in die gang baie beslis sê dat sy voortaan weer in haar eie kamer gaan slaap.
“Ek hoop net jy kry nie weer die kwaai besoekster uit die muurkassie nie,” dink hy, effens opgeruimd.
Teen middernag spring Wouter vervaard op uit sy bed. Iets het hom wakker gemaak maar hy weet self nie wat nie. Dis doodstil maar net toe hy weer inklim hoor hy sy moeder met Marie praat. Daarna kom sy weer in die gang af, maar alleen. Die meisiekind het nogal wilskrag by dit alles, dink Wouter. Maar hy sal haar sê om ‘n dokter te raadpleeg want sulke dromery is geen gesonde teken nie.
Tot sy teleurstelling verskyn sy nie Sondagmore aan die ontbytafel nie en sy moeder sê ook nie iets van die voorval nie, net dat sy haar in die bed hou omdat sy so ‘n hewige hoofpyn het.
Die middag, terwyl Wouter ‘n buitediens gaan hou, kom Maryna haar niggie besoek nadat sy die oggend by die kerk van die dromery gehoor het.
“Gaan vra tog vir die koster die sleutel,” soebat Marie, “en dan kyk ons net vir die aardigheid wat in die muurkassie is.”
Die boonste rakkies is vol outydse breekgoed van die fynste porselein. Die drie vroue is begaan daaroor. Dis alles kosbare goed. Op die onderste rakkie staan ‘n houtdoos met egte silwer-tafelgereedskap. Toe Marie dit uithaal, bemerk sy die skrefie in die plank en toe sy daaraan raak, glip dit oop sodat sy kan sien dat die onderste plank ‘n los deksel is wat op ‘n laaitjie pas wat in die muur ingebou is. Sy aarsel ‘n oomblik voordat sy dit oplig, maar laat dit dadelik met ‘n uitroep van skrik terugval.
“Wat is dit?” vra Maryna.
“Die rok,” hyg Marie, “Daar in die laai is die blou ferweelrok wat sy altyd aan het!”
“My wêreld, laat ons sien” se Maryna ewe nugter, vasberade dat hier nou ‘n einde moet kom aan al die geheimsinnigheid. Sy lig die lang blou rok uit. Dit moes baie jare daar gelê het want die swaar voue is op plekke al deurgelê.
“Watter pragtige materiaal, en hoe mooi is die hemelsblou. Maar watter onsmaaklike patroon vir ‘n rok! Dit lyk dan nes ‘n lang, los voorskoot,” sê Maryna terwyl hulle almal die kosbare kantkragie van naby bekyk, hoewel Marie huiwerig bly om daaraan te vat.
“Sluit die goed alles weer net so toe, asseblief,” sê mev Pistorius, hewig onsteld. “Daar is nog twee ander kamers waarheen Marie kan trek.”
“Nee dankie, Tante, u is baie goed, maar hier is iets wat opgelos moet word. Die ou dame het iets om aan my mee te deel, waaroor sy baie kwaad is en ek moet haar die geleentheid gee. Sy sal niks aan my doen nie, ek hou al werklik van haar lelike gesig, want daar is tog iets baie aantrekliks in.”
Marie glimlag moedig en hulle kan haar nie beweeg om uit die kamer te trek nie. Sy wil ook niemand by haar hê nie en gaan vroeg slaap, nog voor die dominee terug is van die buitediens.
Mev Pistorius vind dit ook gerade om niks aan haar seun te vertel nie want sy weet vooruit dat hy dit alles as bespotlike vroumensgrille sal bestempel. Sy en Maryna het ook besluit om liewer niks vir Marie te vertel van die ou dame nie want dit sal haar verbeelding nog meer gaande maak.
Wouter het reeds ‘n hele ruk geslaap toe hy iemand in die gang hoor loop. Liewe land, daar moet darem nou ‘n einde kom aan hierdie affêre! Hy maak sy deur oop en alhoewel die maan deur die venster skyn, gewaar hy niemand nie. Tog, hy het baie duidelik die swaar voetstappe gehoor. Die nag is koud en ‘n rilling gaan deur sy lyf. Dan gaan Marie se deur oop en sy kom uit met ‘n flitslig in die hand en stap vinnig die gang af. Hy wil met haar praat, maar toe hy die groot, starende bruin oë sien wat by hom verbykyk asof sy hom glad nie gewaar nie, besef hy dat sy ‘n slaapwandelaar moet wees en hy het gehoor mens mag nie so ‘n persoon laat skrik nie. Gelukkig het sy pantoffels aan en ‘n dik kamerjas. Nogal ‘n verstandige dromer, dink hy effens sarkasties. Hy voel erg bekommerd.
Hy volg haar waar sy vinnig stap tot aan die onderent van die lang gang, waar sy eers aarsel en dan stadig die trappe opklim na die solder. Die luik staan oop en sy klim daardeur. Hy besluit om haar te volg.
Marie loop tot agter in die donkerste hoekie van die solder en lig met die flits oor ‘n voorwerp wat lyk na die agterkant van ‘n groot, geraamde skildery. Sy staan besluiteloos en dan buk sy vooroor om die anderkant te sien. Sy skrik geweldig en laat die flits uit haar hand val.
“Marie...” begin Wouter, en kom nader in die dowwe lig van die maan.
“Dis sy daar,” hyg sy uitasem, “agter die skildery.”
“Toe maar Marie, dis ek, Wouter, moenie skrik nie,” troos hy terwyl hy sy arms beskermend om haar slaan.
“O,” snik sy en laat haar kop met verligting teen hom rus. Hy kan voel dat sy bewe. ‘n Wonderlike, salige gevoel maak hom van hom meester en hy streel haar sagte krulle soos ‘n moeder haar bang kindjie sou gerusstel. Hulle kon maar so bly staan totdat dit lig word...
“Maar wat het jy dan hier kom soek, liefste?” vra die jong dominee eindelik.
Tot sy spyt gee sy pad en begin soek na die flits op die grond.
“Help my asseblief om die skildery om te draai, Dominee,” sê sy nou heeltemal kalm, nadat sy die lig weer aangeskakel het.
Dit is ‘n lewensgroot skildery van ‘n ouerige dame in ‘n lang blou rok ferweelrok, wat in los voue na benede hang. Om die hals is ‘n breë, vierkantige kantkraag. Die gesig is nie mooi nie maar tog aantreklik.
“Ons moet haar nou hier afdra,” sê Marie vrolik, asof sy dit alles nou geniet. “Sy is seker kwaad omdat hulle haar portret hier kom wegsteek het.”
Wouter begryp daar niks van nie maar sukkel met die yslike stowwerige skildery die trappe af en sit dit in die gang neer.
“En wat nou verder?” vra hy geamuseerd. Marie is natuurlik nog nie heeltemal wakker nie.
“Nou gaan ek lekker slaap; sy sal nie weer uit die muurkassie klim om ons almal te hinder nie. Oe, ek is vaak! Nag Dominee, en baie dankie vir u tydige bystand,” sê sy en onderdruk ‘n lang gaap toe sy by die kamerdeur ingaan.
Wouter staan oorbluf. Marie is bepaald nou heeltemal wakker en by haar positiewe. Hy begryp niks van die affêre nie maar van een ding is hy egter nou baie seker en dit is die wonderlike gevoel wat in sy hart gaande gemaak is. Dit verskil soos die dag by die nag, by wat hy jare gelede vir daardie witkop-nooientjie op universiteit gevoel het.
Toe mev Pistorius die volgende oggend die yslike skildery in die gang gewaar en dadelik die rok herken as dié wat hulle in die muurkassie ontdek het, gaan sy haastig na Marie se kamer. Marie is nog vas aan die slaap en sien daar rustig en bekoorlik uit soos gewoonlik. Van Wouter verneem sy iets omtrent die nagtelike besoek aan die solder en sonder om verder te verduidelik, laat sy Maryna en die koster met sy ouma roep om die skildery te kom besigtig. Intussen word dit deeglik afgestof.
Toe Marie die gepraat in die gang hoor, kom sy ook nader en groet opgewek.
“Laat ek julle nou almal voorstel aan my ou tannie wat snags vir my kom kuier,” sê Marie met ‘n vermaaklike buiging voor die skildery.
“Dis die einste portret wat in my kinderdae hier gehang het,” vertel die koster se ouma.
“Kom, ek sal julle presies wys waar. Net daar in die ingeboude paneel. Jou oog val daarop nes jy by die groot voordeur inkom.”
Wouter, wat hom intussen ook by die geselskap gevoeg het, en die koster, het die skildery gou op sy oorspronklike plek geplaas, terwyl almal dit met belangstelling bekyk.
“Ja, ek onthou my oorlede ma het vertel hoedat die ou dame spesiaal na Engeland gereis het om die portret daar te laat skilder vir die pastorie,” sê ouma, hoog in haar skik omdat dit weer gevind is, “en die raam is net daarvoor gemaak.”
“Nou ja, ek hoop van harte dat sy nou tevrede sal wees en jou nooit weer sal lastig val nie,” sê Maryna, wat haar niggie besorgd aankyk.
“Ek wonder,” sê Marie dromerig, “ek het haar in die nanag weer gesien en sy is nie meer so kwaad nie, maar daar is nog iets verkeerd. Sy het al boontoe beduie.”
“So ‘n ou niksnuts!” se Wouter ewe oneerbiedig binnensmonds.
Marie kyk hom berispend aan. “Maar ek was regtig te vaak en moeg en het sommer bly lê en geslaap,” vervolg sy.
“Ek weet,” sê Maryna, wat skielik ‘n ingewing kry. “Dis die ellendige gewel.” Kyk hier, koster, sommer nou-nou moet jy die werkmense laat kom en hulle moet die pleistering weer afkrap sodat die woord “Naudè’s Gift” weer leesbaar staan soos altyd. Daardie onreg moet ook herstel word.”
“Dis goed, Mevrou,” se die koster ewe gedwee. Noudat hy van alles weet, sal hy tog nie verder daaraan aandadig wil wees dat aan die ou tante se nagedagtenis enige onreg geskied nie.
“Kyk hierso, een van julle mense moet my asseblief van vooraf inlig oor hierdie hele geheimsinnige geskiedenis, van die muurkassie en rok en skildery en die gewel, waaroor ek nog in die duister verkeer,” se Wouter. “Ek wil maar net sê, ek is baie dank verskuldig aan hierdie ou dame in die skildery en sy kan met reg voortaan die ere-plek in die pastorie inneem.” Hy kyk veelbetekenend na Marie. “Sy het aan my hart ‘n wonder openbaar – en dit het ‘n ander groot onreg herstel wat ek in my lewe gely het!”
Marie laat blosend die lang wimpers sak oor haar groot bruin oë. Sy het ‘n lig in Wouter se oë gewaar wat die ander nog nie gemerk het nie, behalwe die dominee se moeder.
“En ek gee ook nou glad nie om dat sy omtrent dertig jaar op die solder moes woon nie, as dit die geval is,” sê mev Pistorius met ‘n bly glimlag en sy kyk haar seun betekenisvol aan.
“Liewe tyd, ek is vanmore laat vir die skool,” sê Marie skielik, en haas haar na haar kamer. Die dominee het alreeds te veel gesê voor die ander mense! Sy sing ‘n vrolike deuntjie terwyl sy aantrek, wat Wouter as ‘n gunstige voorteken beskou. Hy glimlag in sy studeerkamer. Vanaand sal sy nie so maklik wegglip nie, sy sal moet aanhoor wat hy te sê het! En daarna, hoop hy, sal sy nie weer sulke drome droom nie...