GEESTE EN GEDAANTES (6)

Lees reeks by Geeste en Gedaantes

Die spookgas

Walter Spiethoff

Ons twee, my ou vriend Jorg Cronje en ek, het volgens gewoonte Saterdae in sy huisie by die see sit en gesels. Dit was ‘n aand soos vanaand. Die storm het woes oor die water gevee en die gekreun in die boomtakke voor die huis het tot in die kamer deurgedring.

As ‘n mens die heeldag met jou vriend gepraat het, kom daar aan die einde van die dag ‘n tyd wanneer ‘n mens nie meer weet wat om te sê nie. OP so ‘n tydstip is dit die beste om stil te bly en te peins. Ons twee het nie eintlik daarvan gehou om sommer so te klets, of om ons medemense deur die modder te trek nie. Derhalwe was stiltetye by ons ‘n vanspelfsprekende iets. Ek het my ou vriend ook te goed geken om ‘n storie uit die verlede van hom af te pers. Wanneer Cronje met sy pyp tussen sy lippe en die kop effens vorentoe gebuig, in sy gemakstoel sit, moet jy hom maar met rus laat. Vanaf die oomblik dat hy sy kop oplig en ‘n snork van behae gee, is dit tyd om ‘n verleë hoesie te laat hoor. Nadat jy van daardie hoesie kwytgeraak het, sal jy verneem hoe Cronje “ja” sê.   En dan kan jy jouself regruk want Jorg het nou in die rommelkas van sy harsings ‘n verhaal ontdek. Hy het dit toe netjies afgestof en die spinnerakke verwyder om dit fyn en suiwer op tafel te lê.

 

“Luister, ou vriend,” begin Jorg meteens, “het ek jou al die storie van die spookgas in my huis vertel, of hoe?”

“Ou vriend, nee! Ek het nie eers vermoed dat jy ooit iets met spoke te doen gehad het nie. So ver ek weet, glo jy mos nie aan spoke nie!”

“Wel, ek beskou hulle vandag as sinsbedrog, om jou die waarheid te sê. Die storie wat ek jou gaan vertel, wys vir jou egter waartoe sinsbedrog kan lei. Hierdie storie is dan ook nie iets wat ek uit my vingers gesuig het nie. Dis ‘n ware gebeurtenis. Wil jy dit hoor?”

“Ek sal maar te dankbaar wees, Jorgie, as jy dadelik wil begin vertel.”

“Nou goed. Skink dan eers vir ons nog ‘n koppie koffie in. So ja, dankie.”

“Een aand – dit was nog in die dae toe ek op my plaas geboer het – was ek alleen by die huis. My vrou en dogter was op besoek in die Kaap. Die bediendes was in humers langs die huis, en ek was stoksielalleen in die huis.

“Ek het ‘n besoek verwag van my broer, wat met die aandtrein van Kaapstad sou arriveer. Jy het hom nooit ontmoet nie, hoewel hy jare gelede dikwels by my gekom het.”

“Was dit jou broer Karl wat hom in die Vryheidsoorlog so goed gedra het?” vra ek vol belangstelling.

“Einste! Ons twee het destyds saam geveg. Later het hy na Europa gegaan om sy studies voort te sit en, soos hy gesê het, daardie ideale lewensgeluk te vind!”

“Asof so iets werklik te vind is!” van ek Jorgie in die rede.

“Dit is natuurlik alles onsin! Maar na die oorlog en veral na wat mens gedurende die oorlogsjare aan ellende beleef het, praat jy natuurlik dié soort van kaf en verwag jy ‘n ideale lewensgeluk in ander lande, sonder om te bedink dat die mense in ander lande en wêrelddele hul sop ook maar met water kook.

“Wel, aanvanklik het Karl af en toe van hom laat hoor. Sy briewe het ‘n toon van tevredenheid bevat. Later het hy al minder geskryf, en toe meteens het hy heeltemal opgehou om te skryf. Eendag het ek egter onverwags ‘n kabel van hom ontvang om te sê dat hy na Suid-Afrika terukeer.

“Ek het alles voorbereid om hom terug te verwelkom. Die aand waarvan ek melding gemaak het, het ek vir hom gesit en wag. Binne ‘n paar uur sou hy by my wees. Soos ek geweet het, sou hy dadelik vir my van sy ondervindings in Europa begin vertel en ek het gretig daarna uitgesien.

“Dit was presies tienuur die aand. Om twaalfuur sou hy by my op die plaas wees. Ek weet nog dat ek my pyp weer gestop en aangesteek en ‘n nuwe hoofstuk in my boek aangevoor het. Die deur na die donker kamer langsaan het oopgestaan.

“Ek was verdiep in my boek. Na ‘n tydjie hoor ek egter ‘n sagte voetstap. Ek het gedink dat dit een of ander diensmeisie of die huishoudster was wat verversings op tafel kom sit het. Toe ek, sonder om van my boek af op te kyk, haar aanspreek, kry ek geen antwoord nie. Ek dag toe dat ek maar die geluid gehoor het van ‘n muis.

“Nouliks het ek egter met die lees voortgegaan toe iemand vir my naand sê.”

“Was dit Karl?” vra ek nuuskierig.

“Ja! Toe ek opkyk, staan hy daar in die kamer. Hy het afwagtend gelyk. Ek onthou nog dat hy ‘n leertas onder sy arm gehad en in die kamer ingestap het nadat ek opgestaan het om hom te groet.

“Hoe het jy dan so vroeg hier aangekom?” vra ek ewe verbaas.

Hy knik terwyl hy my groet.

“Ek het geweet dat ek onverwags sou kom. Ek het vir ‘n wandeling gegaan en my bagasie op die stasie laat bly. Die pad was goed, en jy weet ou broer, dat die stormagtige nagte vir my altyd ‘n bekoring gehad het.”

“Ek verstaan, maar watter trein het jou dan twee uur vroeër op die stasie gebring?”

“O, jy weet nie van daardie trein nie, Jorgie?” vra hy met ‘n glimlag wat hom altyd eie was. “Ja, daar was ‘n trein.”

“Maar hoe het jy dan in die huis gekom?”

“Op die eenvoudigste manier. Moet nie jou kop daaroor seermaak nie. Laat ons liewer gesels.”

“Ja, maar jy gaan darem eers iets eet, jong. Die lang pad het jou seker ‘n goeie eetlus gegee. Daar staan die tafel vir jou gedek. Kom, ons het die heelnag voor ons om te gesels.”

“Hartlik dank, ou broer. Ek hou nie eintlik daarvan om so laat in die nag te eet nie. My toestand vereis matigheid.”

“Maar wil jy dan nie iets drink nie? Jy is tog seker dors?”

“Ek is nie dors nie, Jorg.”

“Wil jy rook?”

“Ek rook nie meer nie, dankie. Jy sal verbaas wees, Jorgie as jy weet hoe min ek nou vir my behoeftes nodig het.”

Nee, dit het ek nie geweet nie, want vroeër het Karl baie behoeftes gehad. Maar miskien het die ondervindings van die vorige jare hom beskeie gemaak. So het ek gedink en het die saak daar gelaat.

En so het ons twee dan regoor mekaar gaan sit en gesels. ‘n Sekere verleentheid het hom van my meester gemaak. Miskien was dit te danke aan ons herontmoeting. In die begin het Karl vir my vreemd gelyk. Ek het egter gedink dit was toe te skryf aan die omstandighede waaronder hy in Europa en in die vreemde verkeer het. Skielik het ek begin lag toe ek sien watter posisie sy hande ingeneem het, ‘n posisie wat ek nog so goed kan onthou. Die punte van sy vingers was teen mekaar gedruk.

“Jy is darem nog die ou Karl van jare gelede,” sê ek toe onverwags.

Hy het my laggend aangekyk en met die kop geknik.

“Waar is jou vrou, Jorg?” vra hy toe.

“Sy kuier in die Kaap. Oormore sal jy die geleentheid hê om haar te groet. Maar laat ek nou hoor waarom jy so skielik uit die vreemde teruggekeer het. Was dit ‘n deel van jou lewensprogram?”

“in my lewensprogram was dit nie ‘n deel nie. Ten minste, nie sover dit met my wil of voornemens iets te doen gehad het nie. Want wat beteken ons besluite per slot van rekening in ons lewe? Hulle is niks anders as die uitging van ‘n Hoër Hand nie. In elk geval, my besluit om na Suid-Afrika terug te keer, het na vlug gelyk!”

“Ou broer, jy maak my nou nuuskierig. Jy sê jou vertrek uit Europa het die karakter van ‘n vlug gehad. Waarom?”

“Heeltemal reg. Dit was ‘n vlug. Nie ‘n vlug wat met die wet iets te doen gehad het nie, maar ‘n vlug van die gees wat in Europa heers. Hulle het weer die Babiloniese toring herbou en die mag van God in twyfel getrek.”

Ek het Karl ná hierdie woorde verbaas aangestaar.

“Ou broer, jy sal verstaan wat ek bedoel,” en hy kyk in die kamer rond totdat sy oë op die groot Familiebybel rus.

“Daar lê hy nog,” vervolg hy geesdriftig, en staan op om die Boek te gaan haal. Toe slaan hy dit oop en lees die hoofstuk wat melding maak van die waansinnige gedrag van die mensheid van destyds.

“Dit is soos in die ou, ou dae,” vervolg Karl. “Hulle dink hulle is so sterk soos God self. Hulle is besig om die Here te trotseer. Een mens verstaan die ander nie meer nie. Dit is asof elkeen ‘n vreemde taal praat. Volk is teen volk, party teen party, geslag teen geslag, oud teen jonk. Dis ‘n verskriklike toedrag van sake.”

“En jy verwag om hier iets anders te vind, Karl?”

“Nee, ou broer, ek het uitgevind dat dit hier presies soos in Europa is. Die vloek van die Amerikaanse lewensbeskouing het hier reeds te sterk wortel geskiet.”

Dit en nog ander dinge het my broer Karl vir my vertel. Ek het begin dink, maar ek het nie die moed gehad om een enkele woord wat hy uitgespreek het, te weerspreek nie. Uiteindelik het hy stilgebly. Dit was vir my ‘n verligting toe hy sê dat hy wou gaan slaap.

Ons het stil die trap opgeklim. Maar die stilte het soos ‘n las op my skouers gevoel. Dit was vir my asof die lug op die trap so dik was dat ‘n mens nouliks asem kon haal. Ek het Karl toe na sy kamer geneem. Dit was dieselfde kamer wat hy voor sy gaan na Europa bewoon het. Hy het my gesê hoe bly hy daar is. Ek het nog een keer rondgekyk om te sien of alles in orde is en het hom toe verlaat om te gaan lê.

Die volgende oggend het ek op Karl gewag vir ontbyt. Toe hy teen tienuur nog nie opgedaag het nie, vra ek aan Hilda, die diensmeisie: “Hilda, het jy gisteraand vir my broer die deur oopgemaak?”

Sy staar my oorbluf aan.

“Meneer se broer het nie gekom nie! Nie een van ons bediendes het hom binnegelaat nie. Die jong het gisteraand met ‘n leë kar van die stasie af teruggekom!”

Ek wou iets daarop antwoord, maar het my betyds bedink. Die mense klets so baie. Maar ek het die eetkamer verlaat en die trap opgeklim na Karl se slaapkamer. By die drempel het ek verras bly staan. Die kamer was in dieselfde netjiese toestand soos ek dit die vorige aand verlaat het. Geen mens het in die bed geslaap nie!

Meteens het die telefoon gelui. Dit was die stasiemeester wat my in kennis wou stel dat daar die vorige aand ‘n treinongeluk was. Onder die dooies het hulle ‘n man gevind wat in sy sak ‘n brief met my naam en adres gehad het. Dit was my broer, Karl. Ek vra toe die stasiemeester wanneer die ongeluk plaasgevind het en oor die telefoon kom die antwoord:

“Om tienuur verlede nag!”