Hoe groei en kwyn tale?
Dr JC Steyn
Waarom het Engels gegroei en Egipties gesterf ? Hoe verloop die sterf- en groeiprosesse van tale?
Die lotgeval van Iers gee ons 'n aanduiding van hierdie prosesse. Sowat agt eeue gelede is Iers nog oor omtrent die hele Ierland gepraat. Nadat die eiland in die twaalfde eeu onder Engelse gesag gekom het, het die taal langsamerhand agteruitgegaan, veral sedert die sewentiende eeu toe baie Engelse in Ierland gaan woon het. Nogtans was Iers aan die begin van die negentiende eeu nog die vernaamste taal, veral buite die stede.
Tussen 1816 en 1848 misluk die aartappeloes egter 'n paar keer heeltemal of gedeeltelik. Die misoes van 1846 is gevolg deur 'n strawwe winter en 'n epidemie van "famine fever" – 'n kombinasie van tifus en terugkerende koors, en gou daarna ook disenterie en skeurbuik. Talle mense is dood van honger en siekte. In 1847 het dit effens beter gegaan maar in 1848 baie erger. Geweldige sterftes was die gevolg. Die bevolking van Ierland het van 8,2 miljoen in 1841 tot 6,5 miljoen in 1851 en 4,5 miljoen in 1901 gedaal.
Dit was nie net honger en siekte wat tot die groot verlies gelei het nie.
Talle Iere het na Kanada en die VSA geëmigreer. Dit was die instinktiewe reaksie van 'n paniekbevange bevolking. Die aanvanklike histerie was teen 1846 tot die kleinboere beperk maar gou het dorpenaars ook aangesteek.Mettertyd het 'n ander tendens duidelik geword, naamlik dat al hoe meer Iere eers op 'n hoë leeftyd getrou het. Buitendien het minder mense ook getrou. Dié neiging het tot by die 1950-1960's voortbestaan. Teen 1951 was 97 persent van die jong mans tussen 20 en 24 jaar nog ongetroud en 81 persent van die jong vroue; onderskeidelik 84 persent en 54 persent van die mans en vroue tussen 25 en 29 was ongetroud en 68 en 36 persent van die mans en vroue tussen 30 en 34 jaar. Net ná die Tweede wêreldoorlog het boere gemiddeld ná hulle 39e jaar getrou en een uit vier boere tussen 65 en 74 was 'n vrygesel.
Hoewel daar darem nog altyd redelik baie kinders gebore is en die geboorte-aanwas die verlies deur sterfte kon oorskry, is die toename telkens deur emigrasie uitgewis.
Vanweë die hoë sterftesyfer en emigrasie het Iers nie net 'swakker' geword nie maar al hoe 'swakker.' Dié proses was nie vanselfsprekend nie. Dit blyk duidelik as ons onthou dat die "Swart Dood" van 1348 (die groot pessiekte wat uitgebreek het) na bewering die lewens van 25 miljoen mense, 'n kwart van die bevolking van Europa geëis het. Hoewel daar onsekerheid oor die presiese syfers is, het Italië blykbaar die helfte van sy bevolking en Engeland en Frankryk ongeveer 'n derde van hulle bevolkings verloor.
Italiaans, Frans en Engels het voortbestaan, ondanks die baie sterfgevalle, maar Iers het agteruitgegaan toe 'n soortgelyke ramp die Iere getref het. Waarom? In die geval van Iers het nog iets bygekom.
In Amerika was die Ierse immigrante 'n minderheid. Dié wat nog nie Engels geken het nie, en veral hulle kinders en kleinkinders, het Engels aangeneem. In Ierland self was 'n deel van die bevolking eeue lank in aanraking met Engelse immigrante en hulle het die immigrantetaal, Engels, aangeneem, veral ná die groot ramp.
Behalwe die suiwer fisieke prosesse – sterftes en wegtrek – was daar dus 'n ander proses wat Iers laat kwyn het, een wat aan die gang gesit is deur kontak met sprekers van 'n ander taal. Hierdie twee soorte prosesse speel 'n rol in alle gevalle van taalgroei en agteruitgang en hulle word in die volgende deel van ons reeks toegelig.