“Weet iemand wat van Len geword het?”
“Len Groenewald?”
“Ja, die einste. Is daar ‘n ander Len hier rond?”
“Ja, Len Potgieter. Maar hy is nog hier rond – ek het hom vanoggend nog gesien.”
“So, waar is die ander Len? Dis nie soos hy om sommer te verdwyn nie. Ek dink ek gaan hom soek.”
Skeermes ry na Len se woonstel toe in die sekuriteits-kompleks. Wanneer hy daar aankom, loop hy homself byna vas in ‘n hele aantal polisiemanne, almal met Taakmag-uniforms aan. Hy herken ook nie een van hulle nie en dit gee vir hom meer duidelikheid waarom hy nie enige inligting hieroor het nie.
Hy haal sy aanstellingskaart uit sy beursie en loop na ‘n kolonel toe, wat buite die woonstel staan, terwyl een na die ander lede daar inbeweeg en met armsvol eiendom uitkom: ‘n rekenaar, skootrekenaar, lêers, pakke en pakke dokumente, kartonbokse met ongeïdentifiseerde inhoud. ‘n Drietal manne kom aangeloop met plukkratte vol ammunisie en nog ‘n verdere vier lede met vuurwapens onder die arms.
“Middag Kolonel. Ek is brigadier Hugo. Wat gaan hier aan en waarom is ek nie ingelig nie?”
Die kolonel antwoord nie, maar kyk Skeermes op en af aan asof hy deur die hond ingedra is. Daarna kyk hy weg en praat met iemand wat verbykom. Skeer voel hoe die woede in hom opstoot. Hy loop nader en gaan staan ‘n halwe meter van die man af. Hy kyk na die man se naamplaatjie: “Ramakoppa”. Hy haal sy selfoon uit en bel die stasiebevelvoerder.
“Bart, hier is ‘n taakmag kolonel, Ramakoppa. Hy is besig met ‘n operasie by Len Groenewald se huis. Weet jy daarvan?”
“Ramakoppa? Ja, ek weet van hom. Hy is baie arrogant, veral as hy ‘n takie-uniform aan het. Sit hom op, asseblief.”
“Hier. Dis vir jou.” Skeer gee sy selfoon vir die man. Hy luister ‘n minuut lank. Skeer kan nie hoor wat die stasiebevelvoerder sê nie, maar hy sien die kolonel verstyf, met ‘n frons tussen die oë. Hy gee Skeer se selfoon vir hom terug.
“Jammer Brigadier. Dis net dat daar mense is wat ‘n aanstellingskaart clone.”
Skeer staan ‘n bietjie verder weg. Die man ly aan halitose.
“Nou, laat ek weer vra: wat gaan hier aan?”
“Die inwoner van hierdie perseel het vanoggend op mense geskiet hier by die Wimpy.”
“Ja, ek weet daarvan – brigadier Maartens het my ingelig. Hulle het met vol-outo’s op mense binnekant geskiet. Sewe dood en nege gewond? Iemand het terug geskiet. Ek aanvaar Len was een van hulle?”
“Ja, sover ons weet.”
“Kan ek jou lasbrief sien?”
“Lasbrief?”
“Ja, om Len se huis te deursoek en sy goed te vat.”
“Dis nie nodig nie. Daar is genoegsame getuienis om te vermoed hy is die moordenaar.”
“Genoegsame getuienis? Wat? En jy noem hom ‘n moordenaar? En as ek reg is, het hy uit selfverdediging geskiet.”
“Dit mag wees...”
“So, dra alles terug. Jy mag die plek beveilig en wag vir ‘n lasbrief, maar ek dink nie jy gaan een kry nie. En ek dink brigadier Maartens gaan nie vir jou toestemming gee om hier op sy plek te poach nie.”
Die kolonel is woedend. Nie net is hy in die bek geruk nie, maar hy is voor sy manne verneder, of so dink hy. Tog skreeu hy op die ander lede om die besittings weer terug te dra. Skeer wag tot alles terug is en die voertuie vertrek het.
“Ai, Len, ek is maar net te bly jy is nie self geskiet nie,” dink hy hardop. “Maar waar is jy nou?”
(Eindspel)