AFRIKAANSE TAALKWESSIES (1)

Jeanette Koekemoer

Daar is soveel taalkwessies wat veral die afgelope tyd ter sprake kom - of dalk juis nie meer ter sprake kom nie, dat ons gerus in 'n reeks na 'n aantal daarvan kan kyk. Daar bestaan by baie mense onsekerheid oor wat die korrekte vorm van 'n bepaalde uitdrukking is. Of waarom dit anders uitgespreek as gespel word. En wat suiwer Afrikaans is en wat verkeerdelik uit ander tale geneem is. Interessante taalkwessies word hier bespreek byvoorbeeld:

Wanneer is daar 'n 'i' in die verkleinwoord?

Slegs wanneer daar 'n 'i' in die simpleks is bv: kraai: kraaitjie; laai: laaitjie; haai:haaitjie.

Wanneer daar geen 'i' in die grondwoord voorkom nie, dan ook nie in die verkleinwoord nie bv: blad: blaadjie; gat:gaatjie; pad:paadjie; maat:maatjie.

Vermy hierdie anglisismes (uit Engels geneem)

'Wat gaan hier aan?' Korrekte Afrikaans: 'Wat is hier aan die gang?'

So baie mense gebruik verkeerdelik agtervoegsels direk uit Engels geneem soos 'en so aan', bv 'Daar was baie bokke, voƫls, en so aan.'

'Hy is aan diens', is 'n lelike anglisisme. 'Hy het diens/hy werk.'

'Vir my part/aandeel...' kom ook in Nederlands voor maar korrekte Afrikaans is: 'Wat my betref...'

'In aanhalingstekens'. Afrikaans: 'Tussen aanhalingstekens'.

Aankondig en afkondig

Iemand se vertrek of koms of huwelik of afsterwe of nuwe boeke of radioprogramme word 'aangekondig'.

Nuwe wette, gebooie, kennisgewings, verordeninge, plasings in dagblaaie en tydskrifte word 'afgekondig'.

Dit is ;n voorbeeld van die soort kwessies waaroor ons in die volgende aflewerings wil praat.