AFRIKAANSE TAALKWESSIES (2)

AANMEKAARSKRYF VAN WOORDE

Jeanette Koekemoer

(Lees reeks by Afrikaanse Taalkwessies)

Ons ou volkie is deur jare so gebreinspoel deur Engelse invloed en op 'n dwaalpad in ons skryf van Afrikaanse uitdrukkinge gebring dat ons deesdae die Engelse manier van woorde losskryf, verkeerdelik ons eie probeer maak.

Ons gaan nou hierdie probleem taalkundig benader maar onthou in kort dat waar in Engels een begrip meesal twee woorde geskryf word, dit in Afrikaans amper altyd een woord is. Ondanks hierdie poging tot reglementering sal u sekerlik meermale kopkrap maar deur toepassing van die 14 reëls behoort u die meeste probleme die hoof te bied:

  1. In opeenvolging van woorde waarin, as hulle losgeskryf sou word, daar een woord is wat op sy eie nie die volle betekenis oordra nie, word dit aaneengeskryf bv tentoonstel.
  2. Afleidings en samestellende afleidings word altyd aanmekaargeskryf bv waterdraer, onderskepper, viervoetig, seshoekig, hardnekkig, terpersegaan, teraardebestelling, en so meer. 
  3. Wanneer in 'n sintaksiese groep die bepalende woord 'n samestelling met die selfstandige naamwoord vorm om sodoende 'n nuwe funksie te vervul en die konvensionele betekenis te wysig, word dit aanmekaargeskryf bv my groot vader: my grootvader = oupa; klein huisie : kleinhuisie = toilet, en so meer. 
  4. Reste van uitdrukkings waarin woorde voorkom met spraakkunstige vorme word aaneengeskryf bv goedsmoeds, blootsvoets, mettertyd, onverrigtersake, allerweë en so meer. 
  5. Werkwoorde met skeibare en onskeibare voorsetsels wat bywoorde geword het, word aanmekaargeskryf bv aanvaar, deurdring, onderneem, en so meer. 
  6. Werkwoorde verbind met selfstandige of bynaamwoorde, wanneer die betekenis van dié woorde self gewysig is, word aanmekaargeskryf bv gadeslaan, raadpleeg, waarsku, goedmaak, liefhê, loslaat, en so meer.
  7. MAAR: as die eerste woord egter die selfstandige naamwoord is waarop uitgebrei kan word, word dit losgeskryf bv ag slaan, staat maak, prys stel, en so meer.
  8. Byvoeglike naamwoorde met die bywoorde bv al, vol, wel en so meer, word aaneengeskryf bv alwetende, volsalige,welbekende , en so meer.
  9. Kleure se name wat saamgestel is uit twee byvoeglike naamwoorde word aaneengeskryf bv donkergeel, ligblou, vaalbruin, en so meer.
  10. Intensiewe vorme van kleure word ook aanmekaargeskryf bv pikswart, spierwit, goudgeel, potblou, en so meer.
  11. Uitdrukkings saamgestel uit twee bywoorde, of uit een bywoord en 'n voorsetsel wat as 'n bywoord gebruik word, word aanmekaargeskryf bv dusver, eweseer, hoeveel, soseer, agteraan, boonop, en so meer.
  12. Bywoordelike uitdrukkinge wat bestaan uit 'n voorsetsel en 'n selfstandige naamwoord/ byvoeglike naamwoord/bywoord, of die selfstandige voornaamwoorde bv al en een, word aanmekaargeskryf bv agterweë, opnuut, vanhier, aaneen, deureen, uiteen, nieteenstaande, rondom, teenoor, en so meer.
  13. Preposisionele uitdrukkinge word aanmekaargeskryf bv bygevolg, ingevolge, nieteenstaande, rondom, teenoor, en so meer.
  14. Alle uitdrukkinge wat die waarde van 'n voegwoord het en waarin die betekenis van elke deel nie opsigself duidelik blyk nie, word aanmekaargeskryf bv alhoewel, derhalwe, hoeseer, ingeval, namate, daarenteen, desnieteenstaande, en so meer.