PA-STAAN...

KORSIES OP DIE RYGBYVELD (5)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Een naweek, vroeg na 1900 gaan speel Petrusburg op Boshof en soos gewoonlik maak die manne sommer ‘n groot kuiergeleentheid daarvan.  So twee maande later kry een van Petrusburg se manne opdrag van die landdros om hom te kom sien.   Die landdros vertel hom dat ‘n meisie van Boshof laat weet het sy is swanger en dat die speler die pa van die baba is.  Hy kry toe geleentheid om op Boshof sy saak te gaan stel.

Die speler beraadslaag met sy kaptein, en die dag met die hofsaak op Boshof is al sy spanmaats saam met hom in die hof om hom te ondersteun.   Die landdros vra toe dat die beweerde pa van die baba moet opstaan.  Daar staan al vyftien van Petrusburg se span op, maar die landdros laat hom nie van stryk bring nie.

“Dis ‘n baie gelukkige baba dié,” sê hy,  “met 15 pa’s wat sal sien dat daar goed vir hom gesorg sal word.”  Net daar beboet hy elk van die spelers met een pond onderhoud per maand vir drie jaar, wat in daardie dae ‘n lekker som geld was !