HY KYK VIR JOU !

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (8)

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei) 

Oubaas Mark  (AF Markotter), vroeër jarelange afrigter, organiseerder, en “baas” van rugby in Suid-Afrika toe dit nog in sy kinderskoene was, is 'n legende om so bietjie oor te berig:

Die oudskoolhoof van die Primêre Skool op Montagu, Flippie Basson, het op sy dag vir Maties gespeel en een Vrydagaand in 1929, die aand voordat hulle Maitland sou aanpak, gaan dans hy by die ou Conserve.  Een van hul afrigters, oubaas Mark, se voorskrifte was om Vrydagaande rustig deur te bring en vroeg te gaan slaap, maar toe Flippie nog so lekker skoffel, sê een van sy maats vir hom:  “Kyk wie staan daar by die deur...”

Toe Flippie opkyk, raak hy koud toe hy in die einste oubaas se oë vaskyk.  Skielik is die dans nie meer lekker nie en dit werk nie uit om die hele tyd ‘n wye draai weg van Oubaas Mark te gaan gooi nie.  Toe hy weer ‘n slag naby die oubaas verbyskuifel, kyk hy hom skerp aan en vra: “O, is dit hoe jy jou wind kry?”

Flippie wis toe hy gaan die prys betaal en toe hy die volgende dag sy toksak in die kleedkamer neersit, kom George Daneel na hom en sê:  “Flippie, oubaas Mark het gesê jy speel vandag tweede span.”  Sonder om te aarsel het Flippie aangetrek en saam met die tweede span opgedraf.  Maar hy was darem jammer dat die oubaas hom nie daardie dag twee drieë sien druk het nie!

En tipies van die wispelturige oubaas Mark, met die volgende oefening toe Flippie gedwee sy plek in die tweede span inneem,  snou die oubaas hom toe:  “Basson, what the hell are you doing in the second team?!”