JOU TALE!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (9)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Helgard Muller, wat baie jare vir die Vrystaat gespeel het, is bekend as een van die groot karakters van die spel.  Daar is op ‘n slag geskerts dat die enigste rede waarom hy nog in die span plek kry, is omdat hy ‘n seun op die keurkomitee gehad het!  Hy was veral bekend vir sy snaakse sêgoed.

‘n Ou spanmaat vertel van ‘n wedstryd waarin Braam Hendriks, toe nog onder 21, vir die Vrystaat se seniorspan moes speel omdat Naka Drotske die dag beseer was.  Die opponente het seker besluit dis ‘n goeie idee om die jong speler se gal te werk, en dit was nie lank nie of hy los ‘n vreeslike knoop vanuit die skrum.

Die skeidsregter blaas dadelik op sy fluitjie en roep die skuldige en sy kaptein, Helgard, albei nader.

“As hy weer vloek, is daar moeilikheid,” maan die skeidsregter.  “Helgard, praat met jou man!”

Almal staan afwagtend om te sien hoe Helgard die jongeling gaan uittrap.  Die volgende oomblik vra hy hom:  “Weet jou ma jy praat só?”