DIE BROEKLOSE DRIE

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (10)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die oud-Springbokvleuel van 1928, Manus de Jongh, het in die vroeë 1920’s onder die legendariese AF Markotter, beter bekend as oubaas Mark, vir Stellenbosch gespeel, maar het in 1925 op Somerset-Wes begin werk en vir dié klub begin speel. 
Een Saterdag speel hy teen Maties op  Stellenbosch.  Hy kry die bal in ‘n agterlynbeweging op die middellyn en nael skuins by sy opponent verby,  maar dié kêrel kry net-net sy vinger agter in Manus se broek ingehak.  Sonder dat Manus dit eintlik agterkom, skeur sy broek van sy lyf af, maar wat hol is Manus.  Hy systap nog die heelagter ook en gaan druk onder die pale – broekloos.
Met die terugkeer spot oubaas Mark hom: “De Jongh, I admired you for the non-stop flight, but what a shocking performance it was to the people along the line!”