VERKEERDE BAL

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (18)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Hier in die laat 1970’s speel die Shimlas teen Collegians van Uitenhage (bekend as die “wa met die rooi wiele”) in die jaarlikse klubkampioenskappe in Durban.  In ‘n lynstaan op Collegians se kwartlyn beland die Shimlas se Ryk Smuts aan die opponente se kant, met die bal wat uit sy hande val en die lynstaan wat in ‘n losgemaal ontaard.  Ou Ryk draf toe ewe onskuldig terug na sy eie kant, maar met die omdraaislag sien hy hier lê die bal teen die losskrum.  Hy gryp dit onmiddellik en laat waai doellyn toe maar wat hy nie weet nie is dat die baljoggie intussen ‘n ander bal aangegee het waaroor onder in die losskrum geveg word.

Nadat hy sy “drie” met ‘n sierlike duik aangeteken het, kyk hy om, net betyds om te sien hoe Collegians aan die ander end van die veld oorgaan vir ‘n drie met die regte bal!  Boonop het die grensregter aan Ryk se kant net so hard saam met hom doellyn toe gehol, en het dalk nog ‘n groter idioot as Ryk gevoel.