KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Die Jode vertel ‘n verhaal in verband met daardie vreeslike nag van die Pasga.
‘n Joodse vader het een klein dogtertjie gehad van omtrent tien jaar. Sy was sy enigste kind en hy was baie lief vir haar. As die eersgeborene van daardie huisgesin, sou sy die een wees wat moes sterwe, as die swaard van die verderwer hulle huis sou tref.
Voor sy die aand bed toe gegaan het, het sy vir haar vader gevra of die bloed aan die deurposte gestryk was. Hy het bevestigend geantwoord en sy het aan die slaap geraak. Maar sy het onrustig geslaap.
Telkens in die loop van die aand het sy wakker geword en elke keer het sy beangs gevra of alles in orde was in verband met die bloed. Verseker dat dit wel die geval is, het sy weer probeer slaap, maar tevergeefs.
Iets voor middernag het sy weer in groot angs wakkergeskrik. Sy het haar vader gevra om haar in sy arms te neem en haar by die deur uit te dra sodat sy die bloed kon sien. Hy het dit toe gedoen, maar tot sy skrik ontdek hy dat daar geen bloed aan die poste was nie!
Dit was aan ‘n bediende oorgelaat om daarna te kyk en hy het sy plig versuim.
Haar vader het gehardloop om die bloed te haal, en het dit met sy hande aan die deurposte gestryk. Sy kind het die bloed gesien en bewus dat hulle veilig was, het sy rustig gaan slaap.
So beveilig die kosbare bloed van Christus aan die deurposte van ons harte ook ons rus in die ewige lewe.