KORSIES OP DIE RUGBYVELD (19)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
In die middel-sestigerjare het Mooreesburg se Tiere ‘n kookwater derde span gehad wat die oud-Springbok Chris Koch en sy junior Springbok-broer, Willem, asook die oud-Bolander Koos Witkop Hanekom ingesluit het. Eendag draf hulle in ‘n wegwedstryd uit teen ‘n span wat soos hulle ook nog aanspraak op die ligabeker gehad het, en die skeidsregter is ‘n plaaslike kêrel.
Hier teen die einde is die Tiere met net 3-0 voor en uiteindelik is die tyd verstreke, maar die skeidsregter blaas nie die eindfluitjie nie. En die spel gaan aan; dis later vyf minute, toe tien minute en die Tiere bly keer.
Maar op ‘n keer loods die opposisie ‘n hoë skop en Koos Witkop vang dit netjies, sit die bal op die grond neer en gaan sit bo-op die bal. Toe sê hy: “Mister ref, nou is die game verby!”
Toe kon die skeidsregter nie anders nie as om maar die eindfluitjie te blaas nie.