'AIKÔNA' RUGBY- BESERING!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (25)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

In die dae van Dok Craven was daar reeds pogings tot wat vandag bekend is as 'transformasie'  en Dok en manne soos Ian Kirkpatrick en Dougie Dyers het baie moeite gedoen met rugbyklinieke regdeur die land. Hulle het nie net die spelers nie, maar almal wat op een of ander wyse by die spel betrokke 'moes' wees, betrokke gemaak.

Tydens 'n kliniek in die Noord-Vrystaat het hulle ook die noodhulpbeamptes betrek en na afloop van 'n noodhulpkursus oor rugbybeserings het die manne kans gekry om in 'n wedstryd hul nuutgevonde kennis te benut.

In een stadium het een van die spelers op die grond neergeval en die 'onvermydelike' noodhulpmanne draf nader. Hulle maak 'n kringetjie om die speler en voer 'n lang gesprek oor wat die kêrel se besering dan nou kan wees.

Een van hulle kyk toe op na die skeidsregter en sê: "Aikôna! No rugby injury; gemoer!"