OU LIBBIE, MY PÊL!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (26)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

'n Man wat saam met Frik du Preez rugby gespeel het en ook in die gewilde TV-reeks 'Maak 'n Las' opgetree het, genaamd Toy, was 'n regte grapmaker wat al in heelwat komiese voorvalle geland het.

Frik en Toy speel een week proewe in die Kaap en die Sondagmiddag moes hulle terugvlieg noorde toe. Omdat hierdie twee hulle vlug gemis het is hulle toe sonder hulle spanmaats op 'n heelwat later vlug huistoe. Toe hulle hek se kant toe staan om aan boord van die vliegtuig te gaan sien hulle daar's duisende mense. Frik haak af met: "Ou Toy, dit lyk my ons is in die Springbokspan!"

Maar die mense steur hulle nie aan Frik en Toy nie, en Toy gaan vra vir 'n polisieman wat aangaan:
"O, Liberace is hier", antwoord hy – die bekende klavierspeler.

Toy en Frik sien toe daar op 'n afstand hoe drom die mense opgewonde om Liberace saam, 'n flambojante kunstenaar wat lang vingernaels gehad het.

"Ou Frik, kom saam, ek gaan daai man soen," sêToy. Hulle beur hulle pad oop na Liberace en so 'n paar treë weg skree Toy: "Libbie, Libbie!" en waai geesdriftig. 'n Ander polisieman gewaar hom en vra: "Ken jy die man?"

"Ja, natuurlik," antwoord Toy, "dis my pêl daai!" Die polisieman maak toe nogal pad oop vir Toy tussen die laaste paar mense deur. Toe Toy by Liberace kom skud hy sy hand op en af met 'n "Hallo, ou Katnaels!", en gryp hom aan albei ore en soen hom vol op die mond.

Die eers-verskrikte Liberace, wat natuurlik geen woord Afrikaans kon verstaan het, het toe maar net verleë gelag!