KORSIES OP DIE RUGBYVELD (30)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Wedstryde tussen Boland en die WP gedurende die 1950's was hard en genadeloos, en in die afwesigheid van televisie en deesdae se tegnologie wat oortredinge so sekuur uitwys, het die manne mekaar goed bygekom. In een so 'n wedstryd het Jan Pickard, wat bekend was vir sy geniepsigheid in die lynstane, Boland se Jan Burger 'n baie harde steelhou geslaan. Almal in die Bolandspan het geweet Burger gaan een of ander tyd vir Jan "Bull" terugkry.
Burger wag toe sy kans af maar intussen stap die tyd aan. Willem Koch, slot van Moorreesburg en broer van oud-Springbok Chris Koch, is een van die manne wat gretig wag om te sien wat gaan gebeur. Maar daar gebeur nie gou iets nie en na 'n hele tydjie al verloop het, terwyl die spelers by 'n lynstaan vir die vleuel wag om die bal in te gooi, steek Willem sy hand op en roep: "Wag eers!"
Die skeidsregter stap nader en vra wat skort, waarop Willem antwoord: "Laat Jan Burger net eers gou vir Packard donner, my senuwees kan dit nie meer vat nie!"