PASOP ALL BLACKS!

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (32)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Tydens die All Blacktoer van 1970 het die Noord-Transvaalse slot Johan Spies voor sy eerste toets vir die Springbokke op Ellispark 'n hotelkamer met Frik du Preez gedeel. Die All Blacks het met 'n allemintige reputasie in Suid-Afrika aangekom en uiteraard was die arme man maar baie op sy senuwees. Die aand voor die toets kon Spies nie slaap nie, en Frik wat by sy ou maats gaan gesels het, was ook nie daar om hom bietjie advies te gee en te kalmeer nie.

Later die aand kom Frik terug in die kamer, val sommer in die bed en was amper dadelik aan die slaap. Die arme Spies kon maar net na sy gesnork lê en luister en het feitlik geen oog toegemaak nie.

Die volgende oggend kon Spies skaars sy oë en ore glo toe Frik wakker word, sy arms behaaglik bo sy kop uitstrek en uitroep: "All Blacks, vandag gaan julle bars!"