KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
'n Man kom by die dokter en kla oor sy seer rug. Die dokter wil weet hoe hy dit seergemaak het. Hy vertel:
"Ag dok, ek het nou die dag teruggekom van die werk en in my huis het ek besef iets is nie reg nie want my vrou het baie skuldig gelyk. Toe weet ek daar is 'n ander man êrens in die huis en ek hardloop die hele huis deur maar kon hom nie binne kry nie. Toe ek by die balkon uitkyk sien ek sowaar daar sit hy onder op die sypaadjie en sy skoene vasmaak. Toe gryp ek die stukkende yskas op die balkon en gooi die vent daarmee.
Met die optelslag het ek my rug sleg seergemaak. So jammer ek het die blikskottel net skrams getref, ek moes hom dood gegooi het!"
'n Ruk later kom nog 'n ou met 'n seer rug by die dokter. Toe die dokter wil weet hoe hy dit seergemaak het, antwoord hy:
"Ai Dok, jy sal my nie glo nie maar so 'n dag gelede het ek nog werk gesoek en orals probeer maar niks gekry nie. Later het ek van pure moedeloosheid op 'n sypaadjie gaan sit om my skoenveters weer vas te maak, toe tref 'n yskas my hier van bo so skrams teen my rug. Waar dit vandaan gekom het weet nugter, maar my rug is vreeslik seer!"
Nog dieselfde dag kom nog 'n ou met 'n baie seer rug by die dokter aan. Die dokter begin maar weer by die logiese vraag en wil weet hoe hy dit seergemaak het. Die man begin vertel:
"Ai Dok, jy sal my nie glo nie, maar ek sit in hierdie yskas..."