HABAKUK WORD DANIËL

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Habakuk se blikkie kondensmelk

Kom ons geniet een van Jan Spies se kostelike vertellings:

Die gemeente het vir ‘n feesgeleentheid voorberei en die predikant het die gedagte gekry om by die uitvoering van die program die aand, die boeke van die Bybel in volgorde prakties voor te stel aan die gemeente.  Daarvoor het hy 66 kinders van die gemeente uitgesoek wat elkeen ‘n Bybelboek moes voorstel deur middel van ‘n plakkaat waarop die naam van die boek geskryf staan. Hulle sou dan een-een op die verhoog stap met die plakkaat om die nek en langs mekaar gaan staan totdat die hele Bybel se name in volgorde vertoon terwyl die dominee van agter die gordyn elkeen se verskyning verduidelik.

Met die voorbereiding het alles vlot verloop, alhoewel Jannie en nog verskeie ander kinders nie gelukkig gevoel het oor die name van die boeke wat hulle moes voorstel nie.  Op Jannie se plakkaat het “Habakuk” gestaan.  Hy gaan kla toe by sy pa wat ‘n kruidenierswinkel op die dorp bedryf het en dié troos hom met ‘n blikkie kondensmelk om maar tevrede te wees om die boek Habakuk voor te stel.

By hul volgende oefening in die kerksaal sien Jannie name wat vir hom mooier klink en verkoop toe met die blikkie kondensmelk sy naam aan ‘n seun wat Daniël sou voorstel.  Die nuwe Habakuk het weer met die blikkie kondensmelk as losprys sy naam verkoop aan Petrus.  So het die proses voortgegaan en het Sefanja, Haggai en Maleagi  en ander almal van name verwissel, wat deur die begeerlike blikkie kondensmelk as oorredingsmiddel moontlik gemaak is. Maar intussen is hulle gewoond aan die volgorde waarin hulle op die verhoog sou stap en almal hou by die plan soos hulle geoefen het.

Toe vind die feesaand plaas.  Dominee staan êrens agter die gordyne en lees die name van die Bybelboeke, waarop elkeen met sy plakkaat op die verhoog verskyn, soos hulle in volgorde opgestel is.  Hy begin by Genesis:   “En.... daar.... was .....Genesis.....!”  Maar Genesis het sy plakkaat verkoop en daar stap hy as Johannes op die verhoog.  “En. . . daar. . . was. . . Eksodus. . . !”   Dominee sien nie dat op Eksodus se plakkaat nou Samuel staan nie.  Hy ploeter maar voort deur die Ou Testament, verby Habakuk en Maleagi en so ook deur die Nuwe Testament tot die einde toe.

Die gemeente sit eers verstom en wonder wanneer die Bybel so snaaks verander het maar besef later dat daar 'n deurmekaarspul plaasvind, en hulle begin giggel, en later hardop lag.  Toe kom Dominee agter die verhoog uit om te sien wat dan so snaaks is want eintlik was dit 'n ernstige en gewyde stuk. Eers toe sien hy die harwar op die verhoog raak.  Uiteindelik het hy vasgestel dat die hele moeilikheid by Habakuk en ‘n blik kondensmelk begin het, maar dit was toe te laat om iets daaraan te verander. Later het almal heerlik gelag oor die kinders se vindingrykheid wat tot groot vermaak van die gehoor gelei het.