KORSIES OP DIE RUGBYVELD (45)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Een aand gedurende 'n spanpraatjie van dr Danie Craven in Durban tydens die Toyota-klubkampioenskappe het Rob Louw die ongehoorde ding oorgekom om aan die slaap te raak terwyl Dok iets verduidelik het. Rob, wat langs dok Craven gesit het, was slegs reserwe vir die volgende dag se wedstryd en nie juis gemotiveerd nie. Dit was warm en bedompig en hy het gedroom oor sy ander voorliefde, branderplankry.
Rob het reeds ingesluimer toe Dok na aanleiding van 'n sekere punt aan een van die Matiespelers, Henry Muller, vra: "Waar is die bal?"
Henry het Rob intussen dopgehou en gesien hy dut so bietjie. Op Dok se vraag vra hy skielik hard in Rob se rigting: "Rob! Rob! Waar's die bal?"
Deur die wind spring Rob orent en skree: "Waar's die bal?! Waar's die bal?!"
Hy is jare daarna steeds hieroor gespot.