DEUR DIEPE WATERS...

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (47)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

In die vyftigerjare moes Piketberg een Saterdag op Wellington gaan speel. Die aand na die wedstryd is vier van die Piketbergspelers, Manus Bester, Cas Mouton en Matthys Laubscher (bekend as Lang Loupie), asook die vlagman, Celliers van Rensburg, in 'n motor oppad terug Piketberg toe.

Of die manne kwaai gekuier het word liewer nie gesê nie. Ook nie of hulle te vinnig gery het nie. Maar naby Paarl, op 'n plek langs die Bergrivier, loop die motor van die pad af, slaan om en beland op sy dak in die vlak water van die rivier, maar dis pikdonker en die manne weet nie dit is vlak nie. Met die watertjies wat in die donker teen die motorruite klots is hulle vreesbevange en seker hulle laaste nag het aangebreek.

Daar word besluit Manus sal eerste probeer uikom. Hy draai die ruit met mening af en duik na buite – reg in die rivierwal vas! Toe kruip die ander ook uit maar hulle moes hulle papnat klere uittrek en hang dit toe oor die bosse om droog te word. Van die plaaswerkers van die omgewing het egter die klere voordat dit droog was gegryp en laat spaander. Op die einde moes die polisie hulle daar gaan haal waar hulle beteuterd in net hulle onderbroeke gewag het. Maar die ergste was toe die vier se vrouens die verleë manne in die Paarl moes kom haal!