KORSIES OP DIE RUGBYVELD (49)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Dok Craven het vertel van 'n Vrystaatse ondersteuner wat die wedstryd tussen die baie goeie Britse Leeuspan van 1955 en die Vrystaat op Kroonstad bygewoon het, maar waarin die Blikore 'n groot nederlaag van 3-31 op die lyf geloop het.
Die kêrel langs die veld het al 'n hele paar happe ingehad en sit toe so kop onderstebo en biltong kerf terwyl hy laat hoor: "Hierdie Engelse is goed, vrek goed, maar ons stem maar nog Nasionaal!"