KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Koos se vrou het 'n pragtige en slim kat as troeteldier maar Koos kan hom nie verdra nie. Op 'n dag besluit hy om van die kat ontslae te raak maar hy wil darem nou nie so wreed raak en die dier se nek omdraai nie. Na 'n gewik en weeg neem hy 'n besluit: hy sal môre-oggend die kat so twee kilometer ver gaan aflaai.
So besluit, so gemaak, en hy wag die oggend tot sy vrou werktoe is, laai die kat in sy motor en ry twee kilometer deur die ergste verkeer tot waar dit stiller is. Daar gooi hy die kat summier uit sy voertuig.
Koos ry reguit huistoe maar daar sit die kat op die stoep hom en aankyk toe hy uit sy motor klim. Nee a, besluit hy, twak hiermee, voor sy vrou vandag huistoe kom sal die verpestelike kat weg wees. Hy laai hom weer in die motor en ry hierdie keer amper tien kilometer ver voordat hy die kat uit die motor gooi. Weer ry Koos reguit huistoe, maar sowaar, daar sit die kat weer op die stoep en lyk of hy Koos uitlag.
Toe besluit Koos hy sal hom wragtie nie deur 'n uitgeslape kat laat baasraak nie. Hy tel weer die kat in sy motor en begin ry, hierdie keer baie ver, en met allerhande draaie, dan links, dan regs, dan 'n paar keer om dieselfde parke en straatblokke, dan weer kilometers links en dan weer kilometers regs, totdat hy uiteindelik stilhou en die kat uitgooi.
Koos ry huistoe want dis nou al laat en sy vrou is seker al tuis. Hy bel haar terwyl hy ry en vra: "Skat, is jy al by die huis?
Sy vrou antwoord: "Ja, ek het pas hier gekom.
"En is die kat by die huis?" vra Koos.
"Ja", antwoord sy vrou, "maar waarom vra jy?"
"Gee asb jou foon vir die vervloekte kat, ek het verdwaal!"