DAAR WAS NIE REKENAARS...

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (53)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Gedurende die Franse toer na Suid-Afrika in 1958 het een spesifieke Franse voorspeler baie moeilikheid in 'n toets veroorsaak. Hy het die Springbokvoorspelers erg frustreer met sy kwistige gebruik van elmboƫ, vuiste en stewels, en dit het tyd geword dat iemand 'n einde aan die probleem bring.
In daardie dae kon 'n skeidsregter egter nie sommer 'n speler in 'n groot wedstryd vir vuilspel afstuur nie want dit kon dalk net 'n internasionale insident veroorsaak. Die vurige Springbokflank Martin Pelser het egter genoeg gehad (selfs die grote Colin Meads was skrikkerig vir hom) en toe hy sy kans sien, vel hy die sondaar met 'n netjiese hou grondtoe. Terwyl die spelers rondom die bedwelmde Fransman saamdrom, kom staan die skeidsregter so ongemerk langs Pelser en laat hoor sagggies: "Dankie maat, jy moes hom lankal gemoer het!"