KORSIES VAN PASTEI
Die keurvors Frederik die Grote van Pruise het in die 18e eeu vir hierdie Duitse staat ‘n sterk leërmag opgebou wat die Reuse Garde genoem is, omdat hierdie hele militêre afdeling net uit manne van oor die ses voet bestaan het. Hy het selfs in die buiteland rekrute gewerf om sy Reuse Garde nog meer doeltreffend te maak. Toe beland daar eendag ‘n jong Fransman by die werwingskantoor. Hy was mooi fris gebou, vér oor die ses voet lank, maar hy ken geen Duits nie. Hulle onderrig hom toe mooi hoe hy voor die keurkomitee moet optree: “Kyk, hulle gaan jou net drie vrae in Duits vra:
1. Hoe oud is jy? Dan antwoord jy: “Ein und zwanzig Jahr” (21 jaar); 2. Hoe lank is jy al in die leer? Dan sê jy: “Sechs Monate” (6 maande). En die derde vraag gaan wees: “Het jy al jou geweer en uniform ontvang?” Dan sê jy net: “Beide”.Die Fransman het die woorde mooi gememoriseer, maar toe wysig die offisier wat die vrae stel daardie dag die volgorde daarvan. Die onderhoud verloop toe so: “Hoe lank is jy al in die leer?”
“21 jaar”. Dit klink ‘n bietjie baie en hy vra:
“Maar hoe oud is jy dan?”
“Ses maande”.
“Kyk ou kêrel, óf jy óf ek is mal!”
“Albei”.