(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
HY BID DAT JESUS HOM MOET HELP
Die kerkdiens gaan nou enige oomblik begin. Die pastoriemoeder het reeds met haar vyfjarige seuntjie hulle plekke ingeneem toe die deur na die konsistorie oopgaan en die predikant voor die kerkraad uit, sy paadjie na die kansel stadig afstap. Toe hy die trappies wat na bo lei, bereik, staan hy ‘n paar oomblikke stil om met geboë hoof die Here se seën te vra.
Sy seuntjie in die pastoriebank wat hom dopgehou het, fluister taamlik hoorbaar vir sy moeder: “Mamma, hoekom gaan staan pappa altyd by die preekstoeltrappies ‘n rukkie stil voordat hy opklim?”
Sy fluister terug: “Hy bid, my liefie.”
“Wat bid by?”
“Hy bid dat liewe Jesus hom moet seën en hom moet help om mooi te preek.”
“Nou maar waarom help liewe Jesus hom dan nie?”