(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
BID ASSEBLIEF VIR MY!
Die kerkdiens sou binne enkele oomblikke begin. Die vrou met haar kleuterseuntjie aan die hand, was amper laat toe sy na haar sitplek taamlik voor in die kerk aanstap om te gaan sit. Die knaap aan haar hand het egter dié dag vir pret meer lus gehad as vir die preek. Hy het kort-kort opgespring en vir die mense in die rye agter hulle die soetste glimlaggies uitgedeel. Soms het hy regop gaan staan sodat die mense sy vriendelikheid beter kan geniet. Sy ma het hom dan taamlik hardhandig in sy sitplek teruggepluk en beveel om stil te sit en voor hom te kyk. Nie vir lank nie, toe’s dit maar weer so.
Die ma kon dit naderhand nie meer met die knapie uithou nie en spring op in haar sitplek, gryp hom aan die een hand en sleepdra hom die gang af na buite. Hy probeer weerstand bied en gryp met die ander hand na die banke in die verbygaan en kyk in die gesigte van die mense, terwyl hy aanmekaar soebat: “Bid tog vir my asseblief, toe bid tog vir my!”