MORE NEEF...

KORSIES VAN PASTEI

Hierdie een is egte korsies van pastei, want hierin is veel opgesluit van die lewe wat baie van ons voorgeslagte fetlik genoodsaak was om te leef.

Die huisgesin se hartbeeshuisie het uit net een groot vertrek bestaan.  Die oom en tante wat hier gewoon het, het tien kinders gehad.  Bedags was elkeen buite met sy eie dinge besig, maar saans en snags was die hele huisgesin in die huisie saamgetrek.

Een aand word hulle besoek deur ‘n man wat hom toe ewe gesellig saam met die groot gesin in die groot woonkamer tuismaak.  Daar was genoeg stoele vir die huisgesin en vir die besoeker in die vertrek, maar geen tafel nie.

Toe sê die oom:  “Sannie, doen jou plig.” 

Die oudste dogter verlaat die huisie en keer terug met ‘n groot skottel water en plaas dit voor die vreemdeling en beduie vir hom om sy gesig te was.  Hy herstel gou van sy verbasing en spoel sy gesig daarin af.  Sannie neem die skottel na haar pa en hy doen dieselfde.  Daarna neem sy dit na haar ma, wat ook haar gesig afspoel.  Daarna kom die oudste seun aan die beurt en so gaan die skottel water met die ry af tot die jongste kind sy gesig gewas het.  Daarna was Sannie haar eie gesig en kom sit die water voor die besoeker neer en vra dat hy sy voete moet was.  Na hom was die ou man aan die beurt en na hom sy ou vrou en daarna elkeen van die kinders, van die oudste tot die jongste. Toe Sannie die skottel uitdra, het die besoeker anderpad gekyk om nie te sien wat die kleur van die water was nie.

Daarna het slapenstyd aangebreek.  Die kinders het met matte en saggebreide wildsvelle die slaapplekke van die een kant tot die ander kant van die vertrek opgemaak en almal het sonder seremonie ingekruip, in die volgorde van die oudste tot die jongste.  Die besoeker het ‘n plekkie hier bo naby die ou man en vrou gekry.

Nadat die ou man die gemeenskaplike kers doodgeblaas het, hoor die besoeker:  “Nag neef! “  Hy skat dat hy nag gesê word en antwoord:  “Nag oom!”  Toe hoor hy weer die oom sê: “Nag ou vrou!”  Dan wag hy tot sy antwoord:  “Nag ou man!”  Nou kom die kinders aan die beurt.  Die oom sê vir die oudste seun:  “Nag Piet!” en Piet antwoord: “Nag pa!” Dan is dit Sannie se beurt:  “Nag Sannie!”  “Nag pa!”

So gaan die nagsêery voort tot pa vir elkeen van die tien kinders naggesê het.  Die besoeker is moeg en sou graag wou slaap, maar toe begin die ou tannie op haar beurt weer om elkeen van die tien kinders nag te sê en  elkeen van hulle reageer mooi deur op sy of haar beurt hulle ma terug nag te sê.

Die besoeker voel dankbaar toe dit uiteindelik verby is en trek die karos stywer om sy skouers, met die vooruitsig om tog in hierdie nanag miskien ‘n slapie in te kry.  Net toe hy wegdommel, ruk die oom se stem hom meteens wakker:  “Môre ou neef, môre ou vrou..  ...  ..."