SLIM VANG SY BAAS...

KORSIES VAN PASTEI

Hy was ‘n handelsreisiger of ‘n verteenwoordiger vir ‘n groot maatskappy.  Hy was dikwels weens die ver  plekke wat hy moes besoek, uithuisig en genoodsaak om ‘n nag in ‘n hotel deur te bring, voordat hy die volgende dag huiswaarts keer.

Op sulke aande kon hy daar in die vreemde lekker jolyt hou en die lang ure korter maak as hy wou, maar hy het dit nooit gedoen nie. Sy verskoning was dat hy altyd te uitgeput en moeg was na die dag se harde werk en het dan maar vroeg gaan slaap.

Op ‘n aand toe hy weer tuis was, vertel hy vir sy vrou dat in die hotel van die dorp waar hy die volgende week gaan werk, daar elke aand ‘n gemaskerde bal sou wees, maar hy gaan dit nie bywoon nie; hy sal na die harde ure van die dag te moeg wees vir sulke dinge.

Sy het gesê:  “Ag nee my ou man, dis hoog tyd dat jy ook ‘n bietjie ontspanning geniet.  Dan sal jy minder moeg wees en jou werk geniet,” en sy praat hom om.  Sy maak vir hom ‘n spoggerige mondering wat hom omtoor in Miekie Muis en daarmee is hy weg.  Toe vervaardig sy vir haar die kostuum van Minnie Muis en ry op die betrokke aand na die dorp en die hotel en spoedig was sy as een van die gemaskerdes, deel van die jolyt.

Dit het nie lank geduur voordat sy vir Miekie Muis gewaar nie.  Hy het haar ook raakgesien en spoedig was die  “muispaar” net oë en ore vir mekaar.

Toe die pret sy lekker loop neem, nooi Miekie vir Minnie na sy kamer toe in dieselfde gebou.  Daar het hulle gemaskerd lekker saam gekuier totdat Minnie in die vroeë oggendure nog gemaskerd weg is, toe sy na haar huis teruggery het.

Die dag daana het haar man ook weer tuisgekom.  Sy vra toe: “En  toe my ou man, het jy toe die gemaskerde bal geniet?”   Hy trek ‘n suur gesig en sê:  “Nee, ek was nie daar nie.  Ek was te moeg die aand om dit ook nog by te woon.  Ek het toe my mondering vir my vriend Jan Vossie gegee.  Hy het dit vanmôre vir my teruggebring.  Hy sê hy het die aand en die nag met die oulikste Minnie Muis gespeel wat jy maar kan kry.  Maar nou ja ... “