KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

 MAAK DAN VAN HOM 'N HELD!

Julius Malema het vasgestel dat sy groot voorvader, Ceasar Malema, gedurende 1889 te Pretoria Sentraal Gevangenis gehang was vir treinroof en perdediefstal. Malema het ‘n foto van Ceasar gehad wat by die galgtou staan. Agterop die foto was geskrywe: Ceasar Malema – Perdedief en Rower. Gevang 1883. Ontsnap 1887. Roof  De Beers trein ses keer. Deur ZARP’s gevang. Tereggestel 1889.

Ou Mac Mahrahj en sy span spindokters het hierdie ontdekking onder oë geneem en ‘n paar stappe geneem om te verseker dat Julius se aantog as nuwe president nie skade ly nie. Eers het hulle die galggedeelte weggesny, ‘n vergroting van sy bolyf geskandeer en gemanupileer met beeldsuiweringssagteware sodat slegs ‘n foto van sy gesig oorgebly het. Tesame met die foto het hulle ook ‘n biografiese skets aan die pers bekendgemaak wat lees:

“Ceasar Malema, ‘n opkomende boer vanuit ‘n voorheen benadeelde gemeenskap in die destydse ZAR. Hy het ‘n baie winsgewende besigheid begin wat die aanskaffing van waardevolle perde en formele onderhandelings met die De Beers Spoorwegkorporasie ingesluit het. Aan die begin van 1883, het hy ‘n gedeelte van sy lewe gewy aan ‘n staatsinstelling en vrywillig hul diens gedurende 1887 verlaat om sy sakebelange met De Beers Spoorweg voort te sit. Gedurende 1888, het hy ‘n groot rol gespeel tydens ‘n intensiewe ondersoek deur die ZARP’s. In 1889 het hy tragies gesterf toe ‘n platform onder hom meegegee het tydens ‘n formele staatsbanket wat vir hom gehou was ter erkenning vir die positiewe bydrae wat hy gelewer tot die ekonomie.”