KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

GEVAARLIKE PLEK!

Een Sondag net voor die erediens begin, merk die dominee ' n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ' n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk.  Op die plaat is 'n lang lys name met twee klein landsvlaggies weerskante daarvan.
Die dominee loop nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies:  
"Goeiemore, my seun."
"Môre, dominee," sê hy, maar met sy oë nog vasgenael op die plaat vra hy: "Dominee, wat is dit hierdie?".
Die dominee antwoord:
"Hierdie my seun, is 'n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in diens gesterf het."
In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name.
Na 'n hele ruk van stilte, in 'n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie:  "Watter diens, dominee? Die oggend- of die aanddiens?"