KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

GEVAARLIKE VRY!

Die huisbediende werk al vir twee geslagte by 'n familie in Melkbosstrand. Sy staan een oggend in die kombuis en skottelgoed was, sing die een hallelujalied na die ander.

Die nuwe tuinjong met die kruiwa vol vullis stap by die venster verby. Sy skreeu vir hom deur die venster: “Haai jy! vir wie fluit jy, vir wie fluit jy so?”

Tuinjong: “Nay auntie, dis nie ek nie!”

Bediende: “Nou toe, jy moet waag vir my fluit hoor!”

Hy het die kruiwa gaan leegmaak en kom weer verby geloop. Toe hy by die venster kom skreeu sy: “Luister! Jy moenie vir my fluit nie, ek is ‘n ouvrou en jy ‘n klong, ek gat vir jou...!”

Tuinjong: “Auntie, dis nie ek nie!”

Huisbediende: “Gaan! Gaan! Gaan net!!”

Die derde keer wat hy weer met die kruiwa verbykom stop sy hom: “Wat sien jy hierso? Wat sien jy hierbinne? Sien jy ‘n kind of sien jy ‘n ouvrou?”

Tuinjong: “Nay, auntie is ‘n ouvrou!”

Huisbediende: “Nou toe, ek is ‘n ouvrou en jy ‘n klong, vir wat fluit jy vir my?”

Tuinjong: “Auntie, dis nie ek wat so fluit nie, dis die kruiwa se wiel!”

Huisbediende: “Jy moet daai kruiwa se wiel olie! Jy gaan ‘n vry kry waarvoor jy nie gevra het nie!”