KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei).

NA DIE DUIWEL MET HOM!

Uit ons kerklike lewe het daar al baie staaltjies te voorskyn gekom, meesal waar, maar dalk met 'n kinkel -  geniet hierdie een maar tong in die kies...

Op ’n dorpie met die naam Vredesfontein het die gemeente jare lank in die skoolsaal diens gehou. En almal het pragtig saamgewerk en geld ingesamel vir die bou van hulle droomkerk.

Maar kerkbou is nie sommerso 'n ding nie; jy moet vir hom rus-rus pak, soos die gemeentetjie ook gedoen het. Eers het hulle vir ’n behoorlike neseier gesorg en daarmee ’n stuk grond gekoop. En toe moes hulle van vooraf wegspring en elke jaar die boufonds met ’n stewige stoot laat klim, want dis ’n lang leer voor jy by die balansstaat se weerhaan kom.

Maar hulle werk, en uiteindelik is die boufonds so sterk dat hulle die gebou kan oprig sonder om ’n enkele sent te leen. En dit sê veel, want kontant by die troffel vind ’n mens in ons tyd nie meer so dikwels nie.

En vandat die lidmate hoor dat dit nou sulke tyd is, begin daar ’n gees van onverduurlikheid onder hulle vaardig word — daar moet aan die gang gekom word, en gou ook. En die kerkraad voel ook daar durf nie meer getalm word nie.

En dit was toe dat daar vir die eerste keer onsmaaklikheid kom tussen van die lede van die kerkraad en onder die gemeentelede.

’n Sekere ou oom Piet, ’n ou strydros op die kerkraad, het ’n paar erwe in die nuwe deel van die dorp gehad. En elke keer as die kerkbouery ter sprake kom, dan praat hy in die rigting van die erwe. Sy argument is dat die kerk in die nuwe deel gebou moet word, omdat die dorp soontoe aan die uitbrei is; dis as’t ware waar die toekoms van die dorp lê. En hy voel nou dat die gemeentegrond in die ou deel verkoop behoort te word en die kerk gebou moet word waar die meeste mense eendag sal woon.

En verder is dit ook so dat die kerkraad nie grond sal hoef te soek nie, want hy wat oom Piet is, sal twee van sy erwe wat aan mekaar grens, beskikbaar stel — een vir die kerk en een vir ’n nuwe pastorie. En daarby is die twee erwe sommer langs sy huis sodat hy namens die kerkraad ’n ogie sal kan hou oor alles waaroor die kerkraad ’n oog gehou sou wou hê.

Na oom Piet gepraat het, word daar dan so ’n rukkie oor die moontlikheid bespiegel, en dan is dit eers weer stil.

En so herhaal oom Piet elke keer sy aanbod. Maar, hy wil nie afstand doen van sy kaart en transport nie. Hy voel dat as hy die grond verniet beskikbaar stel, dit genoeg is. En die houding van oom Piet maak die predikant versigtig. Daarom praat hy soveel as hy kan die ding weg.

Maar later is die kerkraad en die gemeente altwee in twee kampe verdeel, en toe word hulle bang vir mekaar, want niemand weet watter kant die sterkste is nie. Daarom laat die predikant die ding nooit tot stemming kom tussen die “oom Piet-kamp” en die “dominee-kamp” nie.

Vir ’n ruk wen die dominee tyd, maar uiteindelik is die dwarstrekkery so erg, en die druk om met die bouery te begin so sterk, dat hy ’n kerkraadsvergadering byeen moet roep vir die genadeslag na die een of die ander kant toe.

En almal het gepraat - en party het baie gepraat behalwe een ouderling. Hy sê g’n woord nie, en hy sou die skaal kon swaai. Daarom sê die dominee toe dit lyk of niemand meer wil praat nie: “Broer, jy het nou nog nie ’n opinie gelug nie. Kan ons dan nie hoor wat jou standpunt oor die saak is nie?”

Toe staan die stil ouderling op.

“Eerwaarde voorsitter,” begin hy, en wag ’n lang ruk voor hy verder praat.

“Ek het ’n droom gehad, maar ek weet nog nie hoe om hom uit te lê nie.”

“En wat het jy gedroom, Broer?” vra die dominee. “Dominee,” sê die ouderling, “ek het gedroom ek kom in die warmplek, maar ek is nie dood nie; ek kry net kans om te sien hoe dit daar lyk. En ek het daar rondgestaan en alles betrag, en later hoor ek die ou groot duiwel roep al die klein duiweltjies bymekaar. En ek beweeg ook nader — om te hoor wat hulle praat. En dis wat toe daar gebeur: Die ou groot duiwel sê: 'Kinners, ek het nou ’n slag ons boeke nagegaan, maar wragtag, ek kan nie ’n plek vind waar ons laas iemand uit Vredesfontein hier ingeskrywe het nie. Hoe doen julle julle werk?'

"En die klein duiweltjies (party sê vir hom 'Oupa', en ander 'Pa'), hulle sê vir hom: 'Ons mors ons tyd met Vredesfontein se mense; daar is nie salf aan hulle te smeer nie.' Die ou groot duiwel sê: 'Is nie moontlik nie. Julle dink net nie.' Hy sê: 'Het julle al aan die politiek gedink?' Hulle sê dit help niks; die setel is onbetwis. Daarom spits hulle hulle maar op die ander setels toe.

"Die ou groot duiwel vra: 'En die boere? Hoe staan dit met hulle?' Hulle sê nee, daar’s geen jakkalsklubs nie, en dis buitendien vredige mense, daarvandaan die dorp se naam Vredesfontein.

"Hy vra:'En die pers en wat van pornografie?' Die klein duiweltjies sê aikônna. Die mense lees nie sulke goed nie. Al wat hulle lees, is die Bybel.

"Die ou groot duiwel vra: 'Nou hoeveel kerke is daar?' Hulle sê: 'Net een. Dis nou een gemeente van dieselfde Kerk.' Die ou groot duiwel sê: 'Maar dan verneuk julle my mos nog allietyd met julle halwe werkery. Die Kerk bied altyd ’n moontlikheid, veral as daar net een is, want dan is verdeeldheid ’n kleine kunsie.'

"Een van die klein duiweltjies sê hy wat die klein duiweltjie is weet darem nie so mooi nie. Want die gemeente van Vredesfontein staan vas. Hulle het dit glad reggekry om genoeg geld bymekaar te maak lat hulle nou vir kontant ’n yslike kerk kan bou.

"Die ou groot duiwel sê: 'Hoekom het julle my dit nie al lankal gesê lat daar ’n kerkbouery gaan plaasvind nie? Hierie kans kom nooit weer nie.'

"Een van die klein duiweltjies vra: 'Hoe so, Pa?'

"Die ou sê: 'Nee, twee goed ken julle nog nie; julle moet nog baie leer van die moontlikhede van ’n gemeente wat kerkbou. Die een ding is die gemeente se swakheid, en die ander is Pa se krag — dis die twee goed wat julle moet ken. En natuurlik die manier waarop ’n man moet te werk gaan. Daarom moet julle mooi kyk na die stappe wat Pa volg dat julle volgende keer weet. Wie is die leidende figure in Vredesfontein se kerkraad?' Die klein duiweltjies sê vir hom dit was oom Tewie en oom Hans, maar hulle twee het nie in die warmplek uitgekom nie.

"Die ou groot duiwel sê: 'Nou ja, sien julle? Met die siele wat verby is, sal ons meule nooit weer maal nie. Wie is nou die manne na wie die anner sal luister? Dis waar die begin van ons sukses lê.'

"Die klein duiweltjies sê vir hom: 'Pa, die staatmakers is die dominee en oom Piet.'

"Die ou sê: 'Reg, nou pak julle vir my genoeg kos en kooigoed in vir ’n paar maande. Ek wil die besigheid op Vredesfontein persoonlik hanteer. En dan kyk julle wat ek doen. As die dominee en oom Piet elkeen net eers ’n klompie volgelinge het, dan kies ek oom Piet se kant en dan moet julle sien wat Pa se gewig kan doen.'

Tot sover vertel die ouderling en hy bly toe stil.

Die dominee sê: “Broer, en wat het jy toe verder gedroom? Dit sal goed wees as ons die ding enduit te wete kan kom.”

Die ouderling sê: “Dominee, toe sien die ou groot duiwel my raak en hy vra: ‘Wie is die vent?’ En toe sê hulle vir hom ek is die ouderling van Vredesfontein wat droom dat hy in die warmplek is, en toe sê die ou groot duiwel: ‘Maak hom dadelik wakker anners loop vertel hy al my planne op die kerkraadsvergadering oor.’ ”

Die dominee vra: “Broers, is hier nog iemand wat ’n gesig gesien het?”

Daar is toe niemand nie, en almal — tot oom Piet — is doodstil. Daarom reël die dominee vir die soveelste keer dat hulle van die punt afstap. En hy sluit die vergadering af.

Die volgende môre ontvang die dominee ’n briefie van oom Piet. En dit lui toe so:

Eerwaarde Dominee, ek kies met duiwel-en-al jou kant. Bou die kerk waar jy wil en sê wat se hulp jy nodig het.

Dit was vir die dominee die teken dat hy die yster moes slaan solank dit nog warm is. En met die nodige sin vir humor is die boosheid toe besweer.

Hy het ook gedroom hy is in die warmplek, nes die stil ouderling, vertel die dominee...  En toevallig het dit gebeur op die dag dat die groot duiwel onverrigter sake van Vredesfontein af teruggekom het. "En," vertel die dominee verder,  "die klein duiweltjies vra vir die ou grote: 'Pa, en hoe’t dit met Pa en oom Piet gegaan?'

"  'Moenie nog daaroor praat nie,' bulder die ou. 'Ek mors nie langer my tyd met hom nie. Laat hom na die duiwel gaan as hy liewers die dominee wil help as vir my!'  "