KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

AFRIKAANS IS VEILIGER!

Die SA Atletiekkampioenskappe van 1953 is in die destydse Rhodesië gehou. Die verskillende provinsiale spanne het almal per trein daarheen gereis. Humor op die trein het natuurlik nie ontbreek nie. Die reis was maar lank en manne soos Fanie du Plessis, John Short en Vic Dreyer het dors geword.

Toe hulle die kelner naderhand nader roep om bier te bestel, antwoord die kêrel in swak Engels dat hulle slegs Engels praat op die trein. Tog was dit duidelik dat die klener eintlik Afrikaanssprekend was. Dit was nie goed genoeg vir Fanie nie. Hy rig hom tot sy makkers en sê:

”Kêrels, kom ons laat die man maar bietjie Afrikaans praat!"

Hy gryp die kelner aan die kraag en die broek en stap met hom na die oop platform op die punt van die passasierswa, keer hom onderstebo, gryp hom aan die enkels en hang hom bo-oor die relings met sy kop rakelings bo die grond terwyl die trein voortsnel.

Beangs skreeu die kelner: "Please, you will kill me!"

Fanie: "Kan jy Afrikaans praat?"

Kelner: "Ja, asseblief!"

Fanie: "Wat wil ons drink?"

Kelner: "Bier – asseblief ek bring dit dadelik!"

Fanie (terwyl hy hom terugpluk op sy voete): "Hardloop boetie, bring die bier voor ek jou hier uitsmyt!"