KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

'n VET AANBOD

Moaner van Heerden was 'n bekende Springbokslot wat in 1977 op die kruin van sy rugbyloopbaan was.
Leon Schuster met sy gekskeerdery bel een aand om elfuur vir Moaner, kort voor die amptelike ingebruikneming van Loftus Versveld. Leon maak asof hy 'n invloedryke Amerikaanse sportpromotor is wat talentvolle rugbyspelers na die VSA lok.

Leon oor die telefoon in 'n sterk Amerikaanse aksent:

"Good evening Mr Van Heerden, I'm from Texas, United States of America. I'm here to recruit outstanding rugby players in South Africa for our Rugby Academy in Tecas. The idea is to promote the game in Texas. We are willing to pay you very well if you are interested to come to Texas and coach some of our teams down there."

Moaner wat aanvanklik nie geesdriftig was nie: "Yes, but what about my job and everything?"

Leon: "Well, we're willing to pay you a salary of 200 000 dollar per year. We give you a beautiful home in a very smart suburb and you will get a Cadillac free of charge for private use."

Skielik kom daar lewe in Moaner se stem. Hy borrel oor van opwinding toe hy sê:

"I'll take it tomorrow! You can come and see me right now."

Leon: "Wait, wait Mr Van Heerden. It is too late now but I'll come and see you in the morning. If that will suit you, please ask your wife to join our discussion."

Moaner: "Fine, fine, I'm waiting."

Leon: "But what about your responsibilty towards Northen Transvaal?"

Moaner: "To hell with them, man! I'll sign your contract right now!"

Toe besef Leon hy moet hierdie storie dadelik stop want die gevolge kon lelik wees. Toe hy vir Moaner sê dis hy, ruk hy die arme man tot nugterheid, 'n pragtige droom in skerwe!

Moaner bly so rukkie stil voor hy sê: "Ek sê vir jou boetie, as ek jou in die hande kry breek ek jou nek!"

Moaner kry toe wel sy kans. Moaner, Leon en Tommy du Plessis kry vier weke later 'n uitnodiging na 'n wynplaas toe hulle in die Kaap is. Moaner sit agter in die motor by Leon. Skielik gryp hy Leon se onderbaadjie langs hom en smyt dit by die venster uit. Terwyl die motor voortsnel maak hy die deur oop en druk Leon se kop tot 'n paar sentimeter bokant die grond terwyl hy vir Leon sê: "Onthou jy die oproep van nou die aand!?"
Toe Leon die wit strepe verby sien flits dog hy dis die laaste ding wat hy gaan sien.