KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

PLATTELANDSE RUGBY BIETJIE ANDERS...

Op 'n dorpie in die Oos-Transvaalse platteland het twee dorpe se spanne mekaar op 'n dag in 'n derdeligawedstryd getakel onder geesdriftige toejuiging van die hele omgewing se inwoners. Die rugbyveld was een van daardie regte beeskraalvelde wat in die middel van die winter al fyngetrap was sodat die spelers vaal van die stof was binne enkele minute ná die aanvang van die wedstryd. Die motors het reg rondom teenaan die veld geparkeer sodat die aanhangers in die motors kon sit en kyk.

Dit was 'n verbete stryd wat kort voor die einde nog geen punte opgelewer het nie. Die spanning het hoog opgelaai. Net voor die eindfluitjie blaas, ontstaan daar 'n woeste losgemaal in die hoek feitlik op die doellyn van die tuisdorp. Al wat mens kon sien, was 'n stofdamp en 'n gestoei op die grond. Toe die stofdamp opklaar, duik een voorspeler skielik oor die doellyn en druk 'n drie.

Die skeidsregter was ook maar rou en het nie mooi geweet of hy die drie moet toeken nie. Hy gee toe die voordeel van die twyfel aan die driedrukker onder luide protes van die toeskouers. Toe die vervyfskop nog slaag ook, was die toeskouers woedend. 'n Klompie geharde boere van die omgewing wou die skeidsregter gewelddadig bykom en hy moes onder polisiebeskerming weggeneem word.

Die Maandagoggend ontvang die rugbysekretaris van dié betrokke bond die uitslag van die wedstryd – die telling 2-0. Dadelik skakel hy die skeidsregter en vra:

"Hoor hierso ou maat, wat vir 'n telling stuur jy kantoor toe? 'n Telling van 2-0 is mos onmoontlik!"

Die skeidsregter verduidelik: "Man, ek het na 'n rukkie getwyfel oor die drie en dit toe afgetrek van die eindtelling – maar dít verseker ek jou: met die vervyfskop was daar waaragtig niks verkeerd nie!"