KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

LAASTE GEMOEDSRUS

'n Oud-Springbokrugbyspeler wat baie rondgetoer het en wie sy naam omverstaanbare redes verswyg word, het ná 'n lang siekbed besef die einde is naby. Maar daar was iets wat hom baie jare gepla het: sy derde seun het vir hom nie eintlik soos sy ander seuns gelyk nie.
In sy sterwensuur laat hy sy vrou ontbied. Die oomblik is ernstig toe sy vrou, bleek in die gesig, langs sy bed staan.
"My vrou," sê hy, "daar is iets wat my baie jare lank ernstig pla. My tydjie is kort en ek moet 'n antwoord daarop kry sodat ek met 'n rustige gemoed kan sterf. Jy moet asseblief eerlik met my wees."
"Maar natuurlik my man," kom haar bewerige antwoord. "Wat is dit wat jou pla?"
"My vrou, ons derde seun... is hy mý seun?"
Onbevange en reguit kom die antwoord: "Ja, hy is natuurlik jou seun!"
"Dan het ek gemoedsrus," prewel hy.
Verlig stap die vrou by die deur uit terwyl sy mompel: "Dankie tog hy het nie oor die eerste twee seuns uitgevra nie!"