KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

STOP DIE GEVEG!

In 1974 het die Springbokrugbyspan Frankryk besoek. Die Franse kan, soos almal weet, baie vinnig rammetjie-uitnek raak en kort voor lank begin die vuiste te swaai.
In een van hierdie onderonsies was Johan de Bruyn, slot van die Springbokke. Johan het 'n glasoog gehad en klaarblyklik het sy opponente nie daarvan geweet nie.
Toe Johan 'n dwarshou van sy blinde kant af teen die kop kry, spat die oog letterlik uit sy oogkas. Hy buk vinnig, raap die oog op en vroetel dit terug in sy plek, terwyl die vuiste om hom klap.
Toe een van die Fransmanne dit sien, dog hy Johan het regtig sy oog verloor, en dit was selfs vir 'n geharde voorspeler darem te rof.  Hy het Johan seker regtig jammer gekry want met wilde gebare stop hy al die vuisslaners om 'n oomblik later sy fout te ontdek, maar toe is die geveg gelukkig verby!