HOE SOU DIE PERSKES RUIK...

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Die meeste plase het vroeër jare hoë solders gehad en daarbo is alles en nog wat gebêre.  Dit was ook die gebruik om jou doodskis vooruit te laat maak en daar te bêre vir die dag as die doodsengel kom aanklop.  Oom Jan se gerieflike plaashuis het ook ‘n solder gehad en getrou aan die algemene gebruik, het hy vir hom en tant Annie elkeen ‘n doodskis laat maak en dit op die solder gebêre.

Een jaar het hulle op die mooi plaas ‘n besonder geseënde persketyd beleef.  Wat nie opgeëet en weggegee kon word nie, het die tannie bottelsvol van ingelê en konfyt gekook en groot hoeveelhede gedroog.  Toe al haar beskikbare houers vol was, het sy een van die kiste van die solder laat afhaal en dit met heerlike droë perskes gevul en hom weer op sy “rusplek” laat terugplaas.

Op ‘n dag het oom Jan ernstig siek geword en die weg van alle vlees gegaan.  Sy kis is op die solder laat haal.  Hy is behoorlik met seremonie uitgelê, gekis en teruggedra solder toe, in afwagting van al die ver familie wat vir die begrafnis sou kom.  Op die vasgestelde dag is hy toe statig begrawe.

Die lewe het sy gang gegaan en tant Annie het in haar swart uitrusting op ‘n gepaste wyse gerou.

Met verloop van dae het sy egter bewus geword van ‘n “klankie”  in die huis wat dag na dag erger word.  Nadat die huis gefynkam is, is een van die plaaswerkers solder toe gestuur vir verdere inspeksie.

Kort daarna kom hy as’t ware afgeduik van bo af, al gillende en “spierwit” geskrik.  “Oumies!  Die oubaas!  Die periskies hy's by die graf gesit, die oubaas hy es daar bo!”