KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Klein Kosie kyk erg bekommerd na die juffrou wat met klasopening die oggend soos elke oggend vir die standerd een klassie uit die Bybel lees. Hy kan dit naderhand nie meer hou nie en bly sy handjie opsteek. Sy kyk hom telkens streng aan en gaan dan aan met lees. Toe sy ná gebed 'amen' sê, toe kan hy dit nie meer hou nie en spring met 'n dringende stemmetjie op:
"Juffrou, juffrou! Ek wil iets vra!"
Die juffrou glimlag en vra" Wat wil jy vra Kosie?"
Klein Kosie besluit om die hele dilemma so stukkie vir stukkie te probeer uitklaar en hy vra:
"Juffrou, daar is iets wat ek nie verstaan nie. Volgens die Bybel het die kinders van Israel die Rooi See deurgetrek, nê juffrou?"
"Ja, dit is so."
"En die kinders van Israel het teen die Filistyne oorlog gemaak, nê juffrou?"
"Ja dis reg."
"En die kinders van Israel het die tempel gebou, nê juffrou?"
"Ja Kosie, dit is alles waar, maar maak nou jou storie kort dat ons kan aangaan met die klas," sê die juffrou minder geduldig.
"Juffrou, en die kinders van Israel het teen die Egiptenare geveg, en die kinders van Israel het teen die Romeine geveg, en die kinders van Israel het altyd iets belangriks gedoen, reg juffrou?"
"Ja dit is so," stem die juffrou saam."Maar wat wil jy nou regtig weet?"
"Juffrou, maar wat het die grootmense dan gedoen?"