KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
In die finale jaar op Kweekskool moet jy jou proefpreek lewer. Jy trek jou spesiaal gemaakte manelpak aan met ‘n toe onderbaadjie en ‘n harde skoenlappertipe boordjie en wit strikdassie. Dis ‘n grootse oomblik, maar verskillende studente beleef dit verskillend.
‘n Sekere nogal selfversekerde student het gereël dat hy sy proefpreek in sy tuisgemeente sou lewer. Sy ouers het die eksaminerende professor en sommer sy vrou ook vir die hele naweek genooi.
Die gemeente het toe nog nie ‘n kerk gebou nie en die dienste is in ‘n saal gehou. ‘n Los kateder is voor op die verhoog geplaas. Alles was gereed vir die sonder twyfel suksesvolle proefpreek.
Sondagoggend breek aan en die student word deur die plaaslike leraar verwelkom en gelukgewens met die besondere mylpaal. Sy ouers word ook gelukgewens met hulle seun. Die student is volkome in sy skik met die hele opset en voel die grootsheid van die oomblik aan. Sy ouers en die professor en sy vrou sit in die heel voorste ry.
Sy teks kom uit Openbaring 21 vers 7. Hy vat die kateder met albei hande vas en siteer: “Kyk, Ek kom gou!” Hy vervat vorentoe, buig vooroor en herhaal met nog meer klem: “Kyk, EK KOM GOU!”
Op daardie oomblik verloor hy sy balans en val met kateder en al bo van die verhoog af. Hy kom met sy agterkop te lande op die professor se vrou se skoot. Hy kyk verleë op in haar oë en sê: “Ekskuus tog, mevrou!”
“Nee wat, dis alles reg,” troos sy. “Jy het my mos darem twee keer gewaarsku!”
Dit was lief van haar, né?