Hans du Plessis
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Hospitale is deesdae ook nie meer wat dit in die outyd was nie – veral nie hier teen betaaltyd nie! Jy kry warm tee en botterbroodjies tienuur in die oggend (as jy wakker is!); poeding by middagete – en dan is dit nog lekker ook.
Vóór die tyd natuurlik! As hulle jou eers in alle vrindelikheid aan die slaap gekry het, is dit nie weer dieselfde jy wat agterna wakker word nie – gelukkig vat die wakkerword heeldag. Jy slaap jou simpel sonder dat jou gewete jou pla. Al wat van die outyd oorgebly het, is dat hulle jou smoors vyfuur met 'n "Goeiemôre!" opboender en dit net om jou bed op te maak, sodat hulle vriendelik weer jou lig kan afsit en met die uitstap kan sê: "Slaap nou maar weer verder." Vyfuur in die middel van die nag! Wat kan daaraan " 'n goeie môre" wees, vra ek jou met trane in my oë?
Maar toe land ek mos tussen oom Johnnie aan die een kant en Gerrie van Evkom aan die ander kant. En hulle is manne wat jou moraal doer naby die engeltjies rond hou.
"Wanneer gaan jy weer uit?"
"Nee, hy't gesê ek kan môre weer uit, dis net my knie!"
"O," lag Gerrie van Evkom, "hy't vir my ook so gesê. Dis nou my tiende dag!"
"k dink ek is nou al nege ins," sê oom Johnnie.
My knie word al seerder.
Ek weet nie op hoe 'n manier en presies wanneer ek weer wakker geword het ná die dinge nie; die twee sê dit was darem heel stigtelik, hulle is net bly hulle is nie in my klas nie...
Dis toe wat oom Johnnie vertel van die ou met die sterilisasie wat uit is net voordat ek ingekom het: so tussen sy laaste slaap en sy rêrige bykom, sê oom Johnnie hier oor die kêrel se kop vir Gerrie van Evkom doer oorkant: "Darem jammer van die ou met die sterilisasie se ongeluk."
"Watse ongeluk?" vra Gerrie van Evkom."
Die ou met die sterilisasie se oge gaan al oper.
"Nee," sê oom Johnnie, "die mes het mos gegly..."
"Watter ou met die sterilisasie?" vra die ou met die sterilisasie, maar oom Johnnie kyk daktoe en Gerrie van Evkom hou sy lag muur se kant toe. Nie een antwoord die ou met die sterilisasie nie. Al twee bly stil, maar hulle loer darem so uit die ooghoeke.
Oom Johnnie sê die ou met die sterilisasie is sommer wakker: hy kyk vir oom Johnnie en hy kyk vir Gerrie van Evkom, maar g'n niemand sê niks. Dis toe dat die ou met die sterilisasie die laken en die komberse weerskante van sy ore suutjies vasvat, weer 'n slag vir die twee stilles kyk, en toe hy nou dink hulle sien nie, die komberse so effe lig en inloer, en dit toeklap toe hy sien dis nie van hom wat hulle praat nie.
Hy dink nou nog niemand het gesien hy kyk nie...
Jy sien, die hospitaal is nie meer wat hy was nie. Deesdae is dit 'n lekker plek – as oom Johnnie eenkant lê en Gerrie van Evkom ander kant.
Nou wonder ek net hoe ek hiermee by Vroulief Sensor gaan verbykom. As jy hom nou lees, moet jy weet ek het die storie uitgesmokkel gekry, sonder dat die sensor my gevang het...