Hans du Plessis
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Ry ek en HP toe Limpopo toe om te gaan werk. Nee, die provinsie, nie die rivier nie. Ons is Lepalale toe, jy weet, net daar wes van Mokopane, nee man, bietjie verder van Polokwane...
Ons was in Ellisras, as jy dan nou moet weet.
Wat is in 'n naam?
Ek moet sê dié Lepalale lyk vir my nog baie na Ellisras: mooi Bosveld met die groot maroelas, bietjie raasblaar en baie rooibos, hardekool en kierieklapper. Jy hoor nog die fisante in die oggend, en neushorings wieg nog altyd op hulle eie stemme; en die katlagters lag nog altyd en die kwê van die kwêvoël klink nog net soos toe dit Ellisras was.
Vir wat loop verander hulle al die name?
Hulle?
Omtrent net so laf soos toe ons self destyds ná 1948 Robertsheights Voortrekkerhoogte gaan maak het... Die Milner- en die Kitchenerstraat het mos ook maar De la Rey of Hertzog geword. Ek was in my dae self deel van die fakkelseremonies wat straatname na Van Riebeeck en later weer na Republiek toe verander het.
Ons?
Ja, maar vandag verander hulle sommer self die name, vra ook nie eers nie. Asof ons destyds vir iemand gevra het of Lyttelton nou Verwoerdburg kan word.
Maar wat te erg is, is darem te erg. Die provinsie se naam en al sy dorpe! Omtrent net Thabazimbi wat sy naam gehou het.
En Noordwes? Dis darem alte Europees! Nie Afrika genoeg nie.
Soos Afrika. Net jammer die naam Afrika kom nie uit Afrika self nie, ek bedoel: die naam Afrika as eienaam vir hierdie kontinent waarop ons boer, is nie deur 'Afrikane' daaraan gegee nie. Moet dit nou net nie te hard sê nie. Dit is oorspronklik deur die Romeinse Ryk gebruik om te verwys na die Romeinse provinsie wat suid van die Middellandse See gelê het. Hierby moet 'n mens darem ook sê dat die naam Afrika na alle waarskynlikheid deur die Romeine afgelei is van die naam van 'n Berberstam wat in die omgewing van die stad Kartago in Tunisië, na hulleself verwys het as 'Afri'. Die naam vir die kontinent word later deur die Europieërs vir Afrika gebruik.
Nie dat naamgewing noodwendig rasioneel of logies is nie. Neem nou maar Azanië: in 1952 word daar in Evelyn Waugh se roman Black Mischief, op 'n storie-eiland 'n ryk geskep wat Azania genoem word. Die woord self gaan egter baie verder terug: dit is 'n Griekse woord wat afgelei is van die Arabiese 'adzan', wat swart beteken, en wat gebruik is om na Oos-Afrika te verwys. Vir Suid-Afrika word dit die eerste keer waarskynlik in 1953 gebruik, in 1988 die eerste keer in 'n publikasie. Omdat iemand Waugh gelees het, of omdat iemand die etimologie geken het?
Ek meen nou maar: Namibië kom immers van die Namib af, Zimbabwe van 'n bouval en Gauteng van die Sepedi vir "by die goud" (moet nou net nie te hard sê dat 'gauta' uit Afrikaans kom nie).
Totsiens, Azanië?
Aan die ander kant: ons woon in Afrika.
Daar is baie in 'n naam, oom Willem, daar is alles in 'n naam. En hier by ons, oom Willem: wat is in 'n voornaam?
'n Hele geskiedenis!
Maar geskiedenis moet per definisie verby wees...