MAGGIE SE OFFERGAWE

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Met noukeurig deursoekende oë het die leraar die gesigte van sy wêreldwyse gehoor aanskou.  Hy het ‘n hartstogtelike beroep op hulle gedoen om hulp vir ‘n klein sendingkerkie daar bo tussen die berge, waar ruwe mans en vroue byna niks geweet het van God en die evangelie van Christus nie.  Hy het gehoop om die mense te besiel met die gees om te gee, om hulle te laat voel dat dit ‘n uiters geseënde voorreg was  -  en hy het gefaal.  ‘n Gevoel van verlatenheid het oor hom gekom.

“Here, help my,” het sy lippe onhoorbaar gefluister.  Hy kon nie die geboë gestaltetjie van klein kreupel Maggie daar agter in die kerk sien nie  -  ‘n gestaltetjie wat gebewe het onder die vuur van sy beroep.

“Here Jesus,” het die outjie snikkend gesê, “ek het niks om te gee nie.  Ek wil so graag hê die mense daar in die berge moet my Heiland leer ken.  Maar Here ek het niks om . . . “

Toe is dit asof ‘n koue hand haar hart beetpak.  “Ja jy het, Maggie,” het ‘n stem êrens gefluister,  “jy het jou kruk, jou pragtig kruk wat jy present gekry het, en dit is ‘n hele paar pond werd.   Jy kan jou beste vriend gee, die vriend wat help om in die park te kom waar die voëltjies sing, wat jou na die kerk bring en jou gelukkig maak.”

“O nee, Here,” snik die kind bewende, terwyl sy in haar trane stik.  “Ja, ja ek sal!  Hy het meer as dit vir my opgegee.”

Blindweg het sy die gepoleerde kruk uitgesteek en in die hande van die diaken gesit wat die karige kollekte opgeneem het.  Een oomblik het die man verlee daar gestaan.  Toe begryp hy haar bedoeling en dra die kruk in die paadjie op en lê dit op die tafel voor die preekstoel neer.  Die leraar het van die kansel afgekom en met bewende hande die kruk omhoog gehou.  Die verhewenheid van die selfverloënende daad het so ‘n indruk op hom gemaak dat hy ‘n paar oomblikke spraakloos was.

“Sien julle dit, my vriende,” het hy uiteindelik gestamel, “klein Maggie se kruk, al wat sy het om haar lewe draaglik te maak.  Sy het dit aan die Here gegee, en julle .  .  .”

Daar was ‘n oomblik doodse stilte.  Die mense het gebloos en ongemaklik rondgeskuiwe op die weelderige kussings in hulle banke.

“Wil iemand hier vir die sendingsaak die bedrag bydra wat die kruk sou haal en dit aan die kind teruggee wat hulpeloos is daarsonder?” vra die leraar ernstig.

“Tien pond,” kom daar in ‘n hees stem van die bankbestuurder.

“Vyf pond.”

“Twintig pond.”

En so het die bydraes ingekom totdat daar note ter waarde van honderd-en-twintig pond oor die kruk op die tafel gelê het.

“A my viende, Goddank!  Julle het julle harte gevind!  Ontvang die seën van die Here,” het die leraar byna fluisterend gesê, terwyl hy skielik sy hande wat bewe van aandoening, ophef.

Klein Maggie was so besig met haar gedagtes oor die groot offer wat sy gebring het en die liefde wat haar daartoe aangespoor het, dat sy niks begryp het van wat aangaan nie.  Aan die toekoms het sy nie gedink nie, nie gedink hoe sy by die huis sou kom nie, of aan die dae wat sy weer soos vroeër hulpeloos in haar stoel sal moet sit nie.  Christus het haar alles gevra en sy het dit gegee in die blinde geloof van ‘n Abraham van ouds.  Sy het niks beter verstaan toe ‘n vrou haar arm om haar slaan en saggies in haar oor fluister nie:

“Maggie-lief, jou kruk het honderd-en-twintig pond ingebring vir die sendingkerkie in die berge, en nou het dit teruggekom om weer by jou te bly.  Neem dit, my kind!”

Soos ‘n ligstraal kom die besef dat haar offer deur God aangeneem en weer aan haar teruggegee is en met ‘n blye uitroep het sy die geliefde kruk aan haar eensame hart gedruk. En toe, met ‘n glimlag deur haar trane vir die vriendelike gesigte om haar heen, het sy uit die kerk gestrompel.