KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
'N PROFESSOR VERTEL
Terwyl ek een namiddag in my klas met ‘n lesing besig was - die onderwerp van bespreking was die evolusieleer - het ek een jong man gevra om voor te lees uit die handboek wat ons gebruik het.
U weet natuurlik wat die kern was van wat hy gelees het, naamlik dat die mens deur die eeue heen langsaam uit een enkelvoudige sel tot sy huidige verhewe posisie ontwikkel het.
Nadat die jong man klaar was met lees en gaan sit het, was ons almal verstom toe een van die jong dames haar stem laat hoor en sê: “Ek glo nie ‘n enkele woord van wat Dwight daar gelees het nie.” U moes daardie jong dame geken het om ons verbasing te kan begryp. Sy was sonder twyfel die mees teruggetrokke lid van die klas. Ek het haar geweldig sien bloos wanneer sy gevra is om voor te dra. As die horlosie teen die muur skielik sy afkeur van die teorie van Darwin laat hoor het, kon ek nouliks meer verbaas gewees het as wat ek was oor haar kragtige uitbarsting van afkeuring.
Nadat ons ietwat herstel het van die skok wat hierdie basuin veroorsaak het, het daar ‘n gegiggel deur die klas getrek wat ek dadelik stilgemaak het. “Ek hoop,” het ek gesê, “ons is almal dames en here, en hierdie jong dame het net soveel reg op haar mening as wat ons op ons s’n het.” Daarop vra ek haar: “Miskien sal u ons meedeel waarom u nie glo wat ons handboek sê nie;” en sonder om ‘n oomblik te aarsel, sê sy: “Omdat ek ‘n Christen is.”
“‘n Christen?” roep ek uit. Ek kon nouliks my ore glo. “Wat het dit met die saak te doen? Ek glo dit. Sou u my nie ‘n Christen noem nie?”
“Nie as u daardie ding glo nie. U kan onmoontlik ‘n Christen wees as u dit werklik glo.”
Dit was die eerste keer in my lewe dat iemand my Christelikheid in twyfel getrek het, en die meisie se woorde het my soos ‘n mes gesny.
“Op wie se gesag durf u twyfel aan die feit dat ek ‘n Christen is?” het ek met heelwat ergernis gevra.
“Op gesag van die woorde van die Here Jesus self,” het sy geantwoord sonder die minste teken van haar vroeëre senuagtigheid en bedeesdheid.
“Toon hulle vir my,” het ek gesukkel om my woede intoom te hou.
“Voordat ek dit doen,” het sy geantwoord, “sê my asseblief wie het die boek Genesis geskryf?”
“Moses het die hele Pentateug geskryf. Maar wat het dit daarmee te doen?”
“Net dit,” was haar onmiddellike antwoord, “u kan elke reël wat Moses ooit geskryf het, deursoek, maar u sal nie een woord vind wat evolusie verkondig nie. U kan onmoontlik glo wat Moses geskryf het, en tegelyk ook die evolusieleer, want hulle is in lynregte teenstelling met mekaar. Moses het geleer dat die mens na die beeld van God geskape is en weens die sonde uit sy hoë stand geval het, en die enigste manier waarop hy tot die gemeenskap van God herstel kan word, is deur die wedergeboorte.
“As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.’ Dit is die presiese woorde van Jesus Christus; en die volgende is ook sy woorde; u sal hulle vind in die vyfde hoofstuk van die evangelie volgens Johannes. Luister noukeurig daarna: ‘Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig – Moses ... want as julle Moses geglo het, sou julle My glo ... as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (vv. 45 – 47).
“U het so pas aan die klas gesê dat u die evolusieleer glo en tegelyk ook glo wat Moses leer, en die Here Jesus Christus sê baie duidelik dat, as u Moses nie aanvaar nie, u Hom ook nie kan aanvaar nie. Hoe kan u nou ‘n Christen wees sonder om in Christus te glo?”
Sy het my bepaald in ‘n hoek gehad, en u kan dink wat ‘n verligting dit was om die klok te hoor wat die einde van die periode aangekondig het,
Daardie nag kon ek nie slaap nie. Ek het net rondgerol en aan daardie dogter gedink. U onthou wat ons in Handelinge lees: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien ... was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken”- (4:13)
Dit was haar vrymoedigheid gepaard met haar Bybelkennis wat my dronkgeslaan het. Ek het geweet sy het iets gehad wat ek nie gehad het nie, en o, hoe het ek daarna verlang.
Ek het dus vir die eerste keer in my lewe begin om die Bybel werklik te lees, en om my lewe te red kon ek niks vind om my sienswyse te staaf nie, want al wat ek tot my krediet gehad het, was my lidmaatskap van die kerk en sosiale diens. Toe lees ek in Titus 3:5 : “Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered.” Ek het op my knieë geval en Hom om genade gebid, en van my knieë af opgestaan ‘n geredde mens.