KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Retha Rix
Ek het die voorreg gehad om naby Calvinia op ‘n pragtige plaas groot te word. In die kranse was baie skeure waar bye nes gemaak het. Maar om hierdie heuning uit te haal, was ‘n operasie sonder narkose.
So het my pa en ‘n ou maat van hom saam met ‘n Hollandse vriend eendag besluit hulle gaan vir die vrouens ‘n bietjie soetgoed uithaal. Om die heuning by te kom, moet een man, gereedskap en al, met ‘n tou teen die krans af laat sak word tot regoor die skeur. Die manne moet dan bo die tou vashou en optrek as die hangende heuninguithaler skree: “Trek my op!”
My pa en oom Adriaan was albei maar lywig en sou nie die toets van die tou se drakrag slaag nie; daarom val die eer van die uithaal die Hollander te beurt. Hy word goed wysgemaak wat om te doen en veral wat om te skree.
Die bye was woelig die dag. Hulle het die Hollander eers so een-een gepiets. Hoppies van die plaas het altyd gesê, as ‘n by jou steek, moet jy gou brandewyn smeer, sodat die ander bye nie die bloed se reuk kry nie. Brandewyn was daar nie vir die Hollander teen die krans nie. Die bye het sy bloed geruik en in sarsies van twee gekom.
“Trek me naar boven!” roep die Hollander benoud kransop.
My pa hulle was lekker aan die padkos kou daar bo en hoor hom nie. Die wind waai boonop sterk.
Die bye versterk hul linies en val in ‘n lyn aan. Weer skree die Hollander: “Trek me naar boven!”
Maar die touhouvashouers hoor glad nie. Hulle jil en gesels houtgerus voort, want so ‘n heuninguithalery neem gewoonlik tyd.
Intussen haal die bye soos in daardie Braveheart-fliek Engelse oorlogstaktiek uit met die opstel van hul manskappe; die bye wat die hardste zoem, aan die kante.
Dis toe dat die Hollander angstig met mening aan die tou begin pluk en op sy beste Afrikaans-Hollands skree dat die kranse weerklink: “Trek my na boven of donder my na beneden!!!”