KORSIES OP DIE RUGBYVELD (1)

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Op  die rugbyvelde word korsies gereeld rondgeskop voordat dit geniet word.  Hier is ‘n paar daarvan:

Polla en Carel Fourie was twee Sprinbokbroers wat in Uitenhage in die Oos-Kaap groot geword het en onderskeidelik in Suidoos-Transvaal en die OP Springbok geword het.  Polla was ‘n harde, vurige flank en Carel ‘n sterk vleuel.

Polla het vir Middelburg gespeel in welke distrik hy ook ‘n plaas gehad het,  en op ‘n tyd is hy van beweerde veediefstal beskuldig.

Polla speel een Saterdag op Middelburg vir Suidoos-Transvaal en terwyl die wedstryd aan die gang is, skree ‘n toeskouer vir Polla:  “Hei, Polla, jou veedief!”

Net daar sê Polla die skeidsregter om gou die spel te staak. Hy klim oor die heining, draf die pawiljoen se trappe uit en gaan gee die skuldige ‘n paar taai klappe.  Toe draf hy weer pawiljoen af, en terug op die veld sê hy vir die skeidsregter: “Dankie, mister ref, kom ons speel maar weer.”

Maak klaar!

Wedstryde tussen die Boland en die WP  gedurende die 1950’s was hard en genadeloos en in die afwesigheid van televisie het die manne mekaar goed bygekom. In een so’n wedstryd het Jan Pickard, wat bekend was vir sy geniepsigheid in die lynstane, Boland se Jan Burger ‘n harde steelhou geslaan.  Almal in die Bolandspan het geweet Burger gaan een of ander tyd vir Jan “Bull” terugkry.

Burger wag sy tyd af, maar intussen stap die tyd aan.  Willem Koch, slot van Mooreesburg en broer van oud-Springbok Chris Koch, is een van die manne wat gretig wag om te sien wat gaan gebeur. Maar niks gebeur nie en lank na die voorval, terwyl die spelers by ‘n lynstaan vir die vleuel wag om die bal in te gooi, steek Willem sy hand op en roep: “Wag eers!”

Die skeidsregter stap nader en vra wat skort, waarop Willem antwoord:  “Laat Jan Burger net eers gou vir Pickard opfoeter, my senuwees kan dit nie meer vat nie!”

Goed, maar . . .

Dok Craven het vertel van ‘n Vrystaatse ondersteuner wat die wedstryd tussen die baie goeie Britse Leeuspan van 1955 en die Vrystaat op Kroonstad bygewoon het, maar waarin die Blikore ‘n groot neerlaag van 3-31 op die lyf geloop het.

Die kêrel het al ‘n hele paar happe ingehad en sit toe so kop onderstebo en biltong kerf, en laat hoor:  “Hierdie Engelse is goed, baie goed. . .  maar ons stem maar nog Nasionaal!