KORSIES OP DIE RUGBYVELD (4)

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

DIT WAS MAAR MOEILIK...

In die ou dae, voor die studente nog motors gehad het, het die Stellenboschspelers met die trein Nuweland toe gery en daarvandaan na die stadion gestap. Daar was altyd van die bruin ondersteuners wat hulle ingewag het om hulle toksakke te dra, voor en na die wedstryde.  Na die Maties een Saterdag ‘n pak slae gekry het, was Craven oppad stasie toe.  Hy was in ‘n slegte bui.

Daar stap toe een van die ondersteuners nader en vra:  “Mister Danie, kan ek mister Danie se toksak vir jou dra?”

Craven was knorrig en ignoreer hom.  Die kêrel vra toe weer of hy die toksak kan dra, maar Craven stap net aan.  Hy vra toe ‘n derde keer, maar  Craven  ignoreer hom steeds.

Toe kom die antwoord vol begrip:  “Mister Danie het op sy moer gekry vandag, né!”