KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Ek glo hierdie storie omdat ek ‘n jakkals ken. Moenie dink dat ‘n skaap vir ‘n jakkals net een nut het nie. Sy vindingryke verstand vertel hom dat hy ‘n skaap op ‘n heel vreedsame manier kan gebruik.
Dit werk so: Wanneer ‘n jakkals voel dat die vlooie hom te veel hinder, veral wanneer hy sy teenwoordigheid moet verklap deur te krap, begeef hy hom in die rigting van ‘n kleinerige skaaptroppie, in hierdie stadium nog van agter bossies en klippe. Hy soek dan die ooi uit wat vir hom die makste lyk, liefs een sonder ‘n lam, want lammerooie raak veglustig. Nou begin die toneelspel. Hy hou hom siek. Hy loop baie wankelrig, so vyf tree van agter die bossie uit en gaan lê dan asof hy rus.
As die ooi hom gewaar, wag hy tot sy weer wei en loop dan weer nader en val weer neer om te rus. Hierdie proses word herhaal totdat hy so vyf tree van die ooi is.
Teen hierdie tyd is sy doodoortuig dat hy niks aan haar gaan doen nie. Nou kom die ware toets. Hy wankel nader en begin haar saggies du met sy neus. Sy ervaar dit as ‘n gepamperlang en hy pluk met elke stootjie ‘n stukkie wol uit haar vag.
As die plukseltjie groot genoeg is na sy sin, draf hy af na die plaasdam. Hy gaan staan dan met sy agterkant na die water en loop duim vir duim baie stadig agteruit die water in. Soos die water styg, klim die vlooie al hoër teen sy lyf op totdat almal op sy rug sit.