BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Slang woon in 'n akkerbos. Hy bly lekker want daar naby is 'n groot muiskolonie, en Slang is lief vir muise.
Elke oggend as die son rooigesig oor die berg loer, kronkel hy homself los, want hy rol hom altyd op as hy snags gaan slaap. "Nou kan ek weer vir my 'n muis gaan vang," sê hy by homself, en lek sy koue swart lippe met sy dun rooi tongetjie af.
Vinnig seil hy deur die lang gras weg, en die sonstrale blits op sy lyf want hy is moddervet. By die muisvoetpaadjie gaan hy doodstil lê en wag.
Nie te lank nie, of daar kom 'n muis in die paadjie af om in die veld te gaan kos soek. Slang lig sy kop op en blaas; nie te sag nie want dan sal muis niks hoor nie en verby hardloop; nie te hard nie want dan sal muis skrik en weghardloop. Hy blaas net reg. Die muis kyk nuuskierig op en vas in sy oë. Toe hy sy ou vyand reg voor hom sien skrik hy so groot dat hy nie 'n voet kan verroer nie. Stadig kom Slang nader, slaan blitsig vooroor, en die muis het skaars drie piepe gegee of hy het by sy keel af verdwyn.
Maar daar is een muis wat Slang nie kan vang nie.
As hierdie muis in die paadjie afkom, lig Slang sy kop soos altyd en blaas net hard genoeg, Maar Muis gaan nie staan nie. Ligvoet spring hy tussen die gras in, en met 'n piep is hy weg. En wat vir Slang die ergste is, is dat hierdie piep net soos 'n lag klink.
Op 'n dag toe Muis weer vrolik in die paadjie aankom, kan Slang dit nie langer uithou nie. In plaas van te blaas, roep hy so vriendelik as hy kan: "Muis! Muis! Hoor 'n bietjie hier."
Muis gaan doodstil staan en gee drie piepe. Nou weet Slang vir seker: hy lag. Slang sluk sy woede af en gaan voort: "Ek wou jou net gevra het, liewe Muis, hoe jy dit regkry om elke slag van my weg te kom."
"Ek is te slim vir jou," sê Muis kordaat, en hy gaan op sy agterbene sit om sy snor te krul.
"Dit lyk my so," antwoord Slang kastig gedwee. "Maar wil jy my nie sê hoe jy dit doen nie?"
"Dis baie eenvoudig," sê Muis, "as jy verstand het."
"Ja, ja?" sê Slang.
"Ek kyk net nie in jou oë as jy blaas nie. Dan kan jy my niks maak nie!" sê Muis.
"Nee, Muis, so maklik kan dit nie wees nie,: sê Slang kastig vies. "Ek dink dis maar net van bangheid dat jy altyd so vinnig vlug."
"Is nie!" sêMuis.
"Is!" sê Slang.
"Is nie!" sêMuis.
"Nou kyk my in die oë dat ek kan sien of jy die waarheid praat!" sê Slang.
"Nou kyk dan!" sê Muis woedend.
Vir die eerste maal kyk hy reg in Slang se oë, en Slang kyk reg in syne. Nou is Slang tjoepstil. Muis wil nog iets sê maar hy kan nie. Te laat besef hy Slang het hom uitoorlê.
Stadig wieg Slang se kop heen en weer, en Muis se kop wieg saam. Nader en nader kom Slang, maar Muis sit versteend. Toe Slang vooroor slaan en hom in die bek gryp, het hy nie eens genoeg krag oor om te piep nie.
Tevrede seil Slang weg om in die sonnetjie te gaan lê en bak. En al wat van die slimste muis oorgebly het, is 'n groot knop in Slang se lyf.